4 SA’ners in veld by Amerikaanse Ope

Suid-Afrika se Thriston Lawrence. (Foto: Gabriel Monnet/AFP)

Terwyl die grootste fokus op wêreldgholf se heel grootste kanonne gerig sal wees, sal vier Suid-Afrikaners ook stilweg probeer om een van die spel se glansryke titels in te oes wanneer die Amerikaanse Ope Donderdag begin.

ʼn Rekordgetal van altesame 10 187 spelers het ingeskryf om aan vanjaar se Ope deel te neem, met 156 wat uiteindelik die paal gehaal het in hul strewe na roem in die jaar se derde major-toernooi wat in Los Angeles in Kalifornië beslis word.

Slegs vier Suid-Afrikaners kon kwalifiseer vir die gesogte Ope, wat die eerste keer in 75 jaar in Los Angeles, neffens Beverly Hills en Hollywood, aangebied word.

Ronald Reagan, Richard Nixon, Bing Crosby, Humphrey Bogart en Fred Astaire is sommige van die bekendes wat in die verlede lid was van dié eksklusiewe LA-buiteklub waar die wêreld se gholfsterre vandeesweek hul talente sal uitstal.

Die vier SA spelers wat ʼn plek in die Ope se uitsoekveld oopgespeel het, is Thriston Lawrence, Deon Germishuys, Wilco Nienaber en die amateur Aldrich Potgieter.

Lawrence het op grond van sy drie oorwinnings in die DP World-reeks vir die Ope gekwalifiseer, terwyl die 18-jarige Potgieter ʼn plek in die veld verdien het met sy sege in die Britse amateur-kampioenskap.

Germishuys en Nienaber het vroeër vandeesmaand hul plekke bespreek in die Ope-kwalifiseringstoernooi wat in Engeland beslis is.

Dit sal drie van die vier SA spelers se eerste verskyning in die Ope wees, met Nienaber wat in 2021 op Torey Pines die eerste keer ʼn proesel van die Ope-atmosfeer gesmaak het. Hy het toe 68ste klaargemaak in die toernooi wat deur die Spanjaard Jon Rahm gewen is.

Rahm word juis vandeesweek as een van die groot gunstelinge beskou om die gesogte major-titel agter sy naam te skryf.

Hy spog hierdie seisoen reeds met vier oorwinnings in die Amerikaanse PGA-reeks en sy oorwinning in April op Augusta in die Amerikaanse Meesters, was sy tweede sege in een van die vier grotes.

Brooks Koepka van die VSA. (Foto: David Cannon Collection/Getty Images/AFP)

Rahm het op Augusta sterk teenstand van die Amerikaner Brooks Koepka gehad, voordat die Spanjaard aan die einde van die laaste ronde die oorhand gekry het in die tweestryd om die groen wennersbaadjie aan te trek.

Verlede maand, in die jaar se tweede major-toernooi, was dit egter Koepka wat baas was toe hy Rahm en al die ander deelnemers uitgestof het om sy vyfde major-titel te verower.

Dit was natuurlik ook die eerste keer dat ʼn speler wat lid is van die omstrede LIV-reeks ʼn major-titel gewen het.

Koepka is vandeesweek een van 15 LIV-spelers wat in die Ope speel.

Afgesien van Koepka (2017, 2018 en 2023) is drie ander LIV-spelers gewese Ope-kampioene. Die Duitser Martin Kaymer (2014), die Yank Dustin Johnson (2016) en Bryson DeChambeau (2020) het al vantevore die titel gewen en weet dus wat dit verg om bo te eindig.

Die deelnemende LIV-spelers sal gewis brand om ʼn tweede agtereenvolgende major-kampioen op te lewer – veral nadat daar verlede week aangekondig is dat die PGA- en LIV-reeks in die toekoms vennote gaan wees.

Die skokaankondiging dat die PGA- en LIV-reeks die strydbyl begrawe het, het nog nie by al die spelers ingesink nie en daar heers reuse-onduidelikheid oor die toekoms van die spel.

Die PGA-reeks se groot vegter teen die LIV-reeks, Rory McIlroy, sê hy “haat” LIV steeds en is van mening dat die spelers wat na die rebelle-reeks oorgeloop het, die gevolge van hul besluite moet dra.

Noord-Ierland se Rory McIlroy. (Foto: David Cannon/Getty Images/AFP)

Die Noord-Ierse gholfster het vandeesweek geweier om media-onderhoude te doen en gesê hy het klaar gepraat oor LIV – en soek nou ruimte om op sy spel te konsentreer.

McIlroy het in 2014 laas ʼn major-titel gewen toe hy daardie jaar twee grotes (Britse Ope en Amerikaanse PGA) gewen het. Voor dit het hy in 2011 die Amerikaanse Ope- en in 2012 die Amerikaanse PGA-titel syne gemaak.

In  ʼn interessante wending sal McIlroy en Koepka die eerste twee dae saam met Hideki Matsuyama in ʼn driebal speel. Matsuyama was glo op die rand daarvan om hom ook by die LIV-reeks aan te sluit voor verlede week se vredesaankondiging, terwyl Koepka Dinsdag gesê het hy ervaar nie juis enige negatiewe optrede jeens hom nie sedert hy sy rug op die PGA-reeks gekeer het.

Oor sy wenkanse het Koepka gesê hy dink hy beskik oor die vermoë om die langste staande te bly en bo uit te kom hoe moeiliker die speeltoestande is.

En met speeltoestande wat volgens alle voorspellings vandeesweek brutaal gaan wees, is Koepka oorgehaal vir nog major-sukses.

Dit sal natuurlik ten koste van McIlroy moet geskied, met die Noord-Ier wat verlede week tydens die Kanadese Ope gesê het hy is stadig maar seker besig om sy beste spelpeil te herwin.

ʼn Reusestryd wag dus vandeesweek in die sogenaamde stad van drome en engele.

  • Bykomende bronne: PGA Tour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.