Bezuidenhout skitter met 10 voëltjies

Christiaan Bezuidenhout. (Foto: Yoshi Iwamoto/AFP)

Die meeste van die aandag was ná Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) se derde ronde van die American Express-toernooi wat by La Quinta in die Kaliforniese woestyn beslis word, op die Spaanse gholfspeler Jon Rahm en die Amerikaanse groentjie Davis Thompson gerig. Die opmars van Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is vreemd genoeg ʼn bietjie opsy geskuif.

Rahm is ná sy 65 houe (-7) in die derde ronde saam met Thompson voor (albei 193, -19).

Bezuidenhout, wat 62 houe (-10) aangeteken het, is saam met die Amerikaner JT Poston derde op 197 (-15) met Tom Kim, Harry Higgs, Sam Burns en Taylor Montgomery saam vyfde op 198 (-14).

Bezuidenhout, wat tien voëltjies aangeteken het en nie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het nie, het met 18 plekke opgeskuif.

Van die ander Suid-Afrikaners is Dean Burmester, Garrick Higgo en Erik van Rooyen almal goed geplaas op 203 (-11) om hopelik te help skep aan die enorme prysgeld van R136 miljoen.

* In Abu Dhabi loop drie spelers, naamlik Franceso Molinari (Italië), Min-Woo Lee (Australië) en Sean Lowry (Ierland), saam voor ná die derde ronde van die HSBC-toernooi op 203 (-13).

Hulle word gevolg deur Grant Forrest (Skotland), Sebastian Soderberg (Swede) en Victor Perez (Frankryk) wat almal op 204 houe (-12) geëindig het.

Suid-Afrika se George Coetzee is op 207 (-9) en Ockie Strydom op 215 (-4).

* In die Amerikaanse LPGA-toernooi vir vroue wat by Lake Nona in Orlando, Florida, beslis word, het Suid-Afrika se Paula Reto en Ashleigh Buhai hul waarde in die derde ronde onderstreep.

Die Kanadees Brooke Henderson (202, -14) het aan haar voorsprong geklou en sy is drie houe voor Nasa Hataokja (Japan) en Nelly Korda (Amerika) wat albei op 205 (-11) geëindig het.

Hulle word gevolg deur Maja Stark (Swede) en Charley Hull (Brittanje) op 207, met Reto op 210 (-6) saam sesde.

Reto het 67 houe in die derde ronde aangeteken, net soos Buhai (211, -5) wat ʼn hele paar plekke opgeskuif het en 11de is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.