‘Boere-Skot’ beïndruk in Alfred Dunhill-kampioenskap  

Robin Williams (Foto: Alfred Dunhill Championship/X)

Die Suid-Afrikaans gebore Robin Williams se middelnaam is Tiger. En Donderdag in die eerste ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap het hy ʼn vertoning gelewer waarop die legendariese Tier trots sou gewees het.

Die 22-jarige groentjie is eintlik nog besig om sy voete op gholf se groot verhoë te vind, maar het soos ʼn wafferse veteraan die uitdagende Leopard Creek-baan aangevat en ʼn skitterende telling van 65 houe (-7) op sy telkaart ingevul.

Die Peterborough Milton-beroepspeler het agt voëltjies aangeteken en slegs by een putjie ʼn hou aan syfer afgestaan. Dit was op die derde toe hy die setperk gemis het en nie suksesvol kon kap en set nie.

“Die baan se setperke was ongelooflik hard ondanks die vorige nag se reën.

“Gelukkig het dit my gepas en het ek baie goed geset. Die hele dag was ʼn aangename ervaring,” het die boorling van Stellenbosch gesê.

Hy het as agtjarige seun Suid-Afrika verlaat en in Aberdeen in Skotland leer gholf speel.

Hy het hom verlede jaar by die beroepsgeledere aangesluit ná ʼn uiters suksesvolle amateurloopbaan wat ʼn verskyning in die junior Ryderbeker ingesluit het.

Om sy voete as geldspeler te vind, het Williams besluit om na Suid-Afrika terug te keer en sy tande in die mededingende Sonskynreeks te slyp.

Die besluit het reeds vrugte afgewerp met Williams wat in Oktober sy deurbraakoorwinning op Glendower in die Fortress-uitnodigingstoernooi behaal het. Hy sê dat daardie sege sy selfvertroue ʼn reusehupstoot gegee het en dat hy deesdae veel meer tuis voel op die gholfbaan.

Sy tandarts-pa was ʼn geesdriftige krieketspeler en wou Williams na Sachin Tendulkar vernoem het. Sy ma het egter haar voet neergesit en sy pa, wat ook gholf gespeel het, het toe op Tiger besluit ter ere van Woods.

“Ek speel gholf danksy Tiger, wie die spel se deure vir miljoene oopgemaak het. Ek sal hom vir altyd dankbaar wees,” het Williams gesê.

Oor die res van die toernooi sê Williams die hele Malelane-ondervinding is ʼn leerskool vir hom.

“Ek probeer nog agterkom wat dit gaan verg om in groot geselskap suksesvol te wees.

“Ek vat alles dag tot dag en probeer leer uit alles wat ek doen en wat ek sien,” het die voorloper ná sy eerste baie suksesvolle dag gesê.

Jayden Schaper (Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP)

Williams is slegs een hou voor die Spanjaard Manuel Elviro en Suid-Afrika se opkomende ster Jayden Schaper, wat albei tellings van 66 aangeteken het in bewolkte toestande wat die spelers erg laat sweet het weens die humiditeit.

Die 22-jarige Schaper het in die laaste twee toernooie albei kere onder die toptien geëindig en kon nie op ʼn beter begin van die seisoen gehoop het nie.

Nog ʼn plaaslike opkomende ster, Casey Jarvis, is een van vyf spelers wat op 67 die vierde posisie deel.

Die 20-jarige Jarvis het baie goed in verlede week se SA Ope afgeskop, maar ongelukkig oor die naweek uitgesak.

Sy ervaringe op Blair Atholl behoort hom egter te help om vandeesweek se druk beter te verwerk.

Jarvis het ook pas sy Europese spelerskaart verwerf en ʼn goeie vertoning op Leopard Creek kan ver gaan om te verseker dat hy aan die einde van die seisoen sy speelregte behou.

ʼn Groot groep van tien spelers deel op 68 (-4) die negende plek.

Onder hulle tel Charl Schwatzel, ʼn viermalige wenner van die Alfred Dunhill-titel, en Suid-Afrika se PGA-sterre Erik van Rooyen en Christiaan Bezuidenhout.

“Die baan is in die heel beste toestand wat ek nog gesien het. Dit speel egter ook heelwat moeiliker as in die dae toe ek soveel sukses hier behaal het.

“In die geheel is en baie gelukkig en tevrede met my vertoning en kan ek oor niks kla nie,” het Schwartzel gesê.

Die LIV-speler se drie spanmaats was nie almal op hul beste nie.

Dean Burmester het stewig afgeskop met ʼn 69 terwyl Louis Oosthuizen se 70 hom ook in ʼn goeie posisie op die voorlopersbord gelaat het.

Brandan Grace se 76 (+4) was egter ʼn teleurstellende vertoning en die Suid-Kapenaar sal Vrydag moet uithaal om die afsny-valbyl vry te spring.

Nog ʼn bekende wat op die eerste dag gesukkel het, was Thriston Lawrence.

Hy het baie goed weggespring en in 31 houe (-6) gedraai net om oor sy tweede nege in te plof en ʼn bitter teleurstellende 42 houe (+7) te speel.

Verlede jaar se kampioen, Ockie Strydom, het met ʼn 71 (-1) afgeskop. Drie verlore houe oor die laaste drie putjies sou hom egter beslis warm onder die kraag gelaat het.

Suid-Afrika se Ernie Els. (Foto: Raj Mehta/Getty Images North America/AFP)

*In Bradenton in Florida is die Europese span van Darren Clarke die voorlopers ná die eerste dag van die Wêreldkampioenebeker-stryd vir seniors.

Clarke se span het 55,5 punte op die eerste dag se ses kragmetings ingesamel en is ʼn halwe punt voor Amerika (55) en vier voor Ernie Els se Internasionale span.

Die spanne het Donderdag in pare meegeding en daar was drie wedstryde in die oggend en drie in die middag met elke span wat in elke wedstryd verteenwoordig word.

Die kragmetings word oor slegs nege putjies beslis en daar is drie punte op elke putjie beskikbaar.

Die beste span op ʼn putjie verdien twee punte, met die naasbestes wat een punt inoes.

Indien die spanne in enige posisie gelyk eindig, word die punte gedeel.

Die beste vertoning van die dag is deur Clarke en sy speelmaat Colin Montgomerie gelewer.

Hulle het in die oggend 13 punte teen Amerika se David Toms en Brett Quigley en die Internasionale span se Steven Alker en Retief Goosen ingeoes.

In die middag het Els en Goosen egter die manne gewys hoe dinge gedoen word deur albei tien punte vir hul span in te samel.

Goosen het weer saam met Alker gespeel met Els wat saamgespan het met KJ Choi.

Die drie spanne speel Vrydag weer ses wedstryde waarna Saterdag ʼn rusdag is.

Die toernooi word Saterdag afgesluit met 12 enkelspelle, wat beteken elke speler sal in twee kragmetings in aksie wees.

Bykomende inligting: DP World Tour, PGA Tour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.