Buhai vuurwarm in Amerikaanse LPGA-reeks

Ashleigh Buhai (Foto: Drew Hallowell/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai en Louis de Jager het gister met rondes van 65 na vore geskiet, onderskeidelik in die Amerikaanse LPGA-reeks se ShopRite Classic-toernooi wat in New Jersey gespeel word en die Skandinawiese gemengde Ope wat in Stockholm beslis word.

Buhai het by die Stockton Seaview-hotel se buiteklub tot derde opgeskuif (134, -8) ná haar tweede ronde van 65 houe in die ShopRite-toernooi. Sy is net drie houe agter die voorloper, Daniela Holmqvist van Swede, wat op 131 (-11) geëindig het.

De Jager het ná sy 65 in die derde ronde van die Skandinawiese Ope op 207 houe (-9) in die klubhuis geëindig en tot 13de posisie opgeskuif in dié toernooi in die Europese reeks. Hy is 10 houe agter die voorloper, Dale Whitnell van Engeland, wat op 197 (-19) geëindig het.

In die toernooi, waar mans en vroue saam speel en om een prysgeld en een trofee meeding, het Whitnell se voorsprong gekrimp nadat hy 70 houe in die derde ronde aangeteken het.

Hy het op 197 houe (-19) geëindig en is vier houe voor Duitsland se Yannik Paul (201, -15).

Richie Ramsay van Skotland (203, -13) is derde met Anne van Dam van Nederland vierde op 203 (-13). Van Dam was die grootste uitblinker toe sy 63 houe in die derde ronde aangeteken het.

Afgesien van De Jager (207, -9) is Justin Walters (208, -8) ook in die wedloop, met Oliver Bekker en Nicole Garcia albei op 216.

* In die Amerikaanse LPGA-toernooi waar Buhai so goed gevaar het, is Holmqvist op 131 houe (-11) met een hou voor Hyo-Joo Kim van Korea (132, -10) met Buhai derde (134, -8). Sy word gevolg deur Yan Liu (China), Jenny Shin (Korea), Chiara Noia (Duitsland), Atthaya Thitikul (Thailand), Matilda Castren (Finland) en Brianna Do (Amerika) wat almal  op 135 (-7) geëindig het. Suid-Afrika se Lee-Anne Pace (138, -4) en Paula Reto (139, -3) is ook stewig geplaas.

* In Toronto in Kanada het Rory McIlroy van Noord-Ierland die omstredenheid van Woensdag se aankondiging dat die Amerikaanse PGA en Europese reeks met die LIV-reeks gaan saamsmelt, afgeskud in die derde ronde van die Kanadese Ope.

McIlroy, wat die afgelope paar maande hewig gekant was teen die omstrede LIV-reeks wat deur Saoedi-Arabië geborg word, het Woensdag nog gesê dat hy soos die spreekwoordelike lam voel wat opgeoffer is oor sy uitsprake en kritiek rakende die LIV-reeks.

McIlroy het 66 houe in die derde ronde aangeteken en is op koers om die Kanadese Ope ʼn derde keer te wen. Hy is op 204 (-12) saam met vyf ander spelers twee houe agter CT Pan van Taiwan.

Pan het voëltjies op die laaste twee putjies aangeteken en ook 66 houe aangeteken om op 202 (-14) te eindig.

Pan, wat aan die Universiteit van Washington gestudeer het, is twee houe voor McIlroy, die Amerikaners Andrew Novak, Harry Higgs en  Mark Hubbard, asook Justin Rose en Tommy Fleetwood van Engeland, wat almal op 204 (-12) geëindig het.

Suid-Afrika se Garrick Higgo het op 212 (-4) geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.