Clark stof McIIroy en Scheffler uit

Wyndham Clark spog met die silwerware. (Foto: Andrew Redington/Getty Images via AFP)

Wyndham wie?

Dit is die vraag op baie gholfondersteuners se lippe.

Dit het gevolg nadat die onbesonge 28-jarige Amerikaner, Wyndham Clark, wat nog net twee keer in sy vorige ses Major-gholftoernooie vir die laaste twee rondes kon kwalifiseer, vroeg Maandagoggend as die nuwe Amerikaanse Ope-kampioen gekroon is.

Clark, wie se vorige beste vertoning 75ste in die Amerikaanse PGA-kampioenskap in 2021 was, het eers verlede maand sy eerste toernooi in die Amerikaanse reeks by Quail Hollow gewen.

Hy moes boonop by die Los Angeles-buiteklub die aanslag van die wêreld se derde beste speler op die ranglys, Rory McIlroy van Noord-Ierland, asook die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, afweer voordat hy sy sprokiesverhaal kon skryf.

Clark het 70 houe in die laaste ronde aangeteken en op 270 houe (-10) geëindig. Hy het McIlroy (271, -9) met een hou geklop, met Scheffler (273, -7) derde en die Australiër Cameron Smith (274, -6) vierde.

Vier spelers, onder wie die voorloper ná die derde ronde, die Amerikaner Rickie Fowler, het saam vyfde op 275 (-5) geëindig.

Fowler het 75 houe in die laaste ronde aangeteken en saam met nog ʼn Aussie, Min-Woo Lee, en Tommy Fleetwood van Engeland vyfde geëindig.

Suid-Afrika se 19-jarige Aldrich Potgieter het 79 houe in die laaste ronde aangeteken en op 295 houe (+15) in sy eerste Major in die klubhuis geëindig.

McIlroy, wat nou met tien toptienplekke in 19 Majors spog, kon weer nie sy neus in die pylvak voor kry nie.

Volgens die BBC is dit 3 234 dae sedert McIlroy laas in 2014 die Amerikaanse PGA-toernooi op die Valhalla-baan kon wen.

Clark, wat houe aan baansyfer op die 12de en 16de putjies afgestaan het, het vasgebyt en deurgedruk.

Ná sy oorwinning het hy sy joggie, John Ellis, en van sy ander gesinslede omhels. Hy het emosioneel die oorwinning aan sy ma, Lise, opgedra, wat in 2013 aan borskanker oorlede is.

* In Michigan het Asleigh Buhai van Suid-Afrika in die laaste ronde van die Meijer Classic-toernooi in die Amerikaanse LPGA-reeks vasgebrand en 73 houe aangeteken wat haar aanslag laat kwyn het.

Buhai het op 275 houe (-13) in die gesamentlike 13de posisie geëindig. Die toernooi is deur Leona Maguire van Ierland gewen, wat op 267 (-21) geëindig het.

Sy is deur Ariya Jutanugarn van Thailand (269, -19) gevolg, met Amy Yang van Korea en Xiyu Lin van China saam derde op 270.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.