Coetzee blink uit in Abu Dhabi

George Coetzee. Foto: Christiaan Kotze/AFP

Suid-Afrika se George Coetzee het in Abu Dhabi die spinnerakke van die ou jaar afgeskud toe hy die tweede ronde van die HSBC-gholfkampioenskap binne twee houe van die twee Italiaanse voorlopers afgesluit het.

Coetzee is op 136 houe (-8) saam in die vierde posisie nadat hy in die tweede ronde ook 68 houe aangeteken het in dié DP World Tour-toernooi.

Francesco Molinari en Guido Migliozzi is saam voor op 134 houe (-10), gevolg deur die Australiër Jason Scrivener (135, -9).

Coetzee is saam met twee Fransmanne (Victor Perez en Alexander Levy), die Skot Scott Jamieson en Alexander Björk van Swede op 136 houe (-8).

Die Engelsman Luke Donald, wat later vanjaar die kaptein van die Europese Ryderbekerspan is, sal die 17de putjie nog lank onthou.

Nadat hy 64 houe in die eerste ronde aangeteken het om as voorloper af te sluit, het hy die kluts kwytgeraak toe hy drie houe meer as baansyfer op die syfer 3-putjie afgestaan en op 139 houe saam in die 22ste plek geëindig het.

Suid-Afrika se Ockie Strydom is op 142 (-4) nadat hy tellings van 71 en 71 op sy telkaart ingevul het.

Amerikaanse toernooie

Die jong Amerikaner Davis Thompson is in La Quinta, Kalifornië, met twee houe voor ná die tweede ronde van die American Express-toernooi wat deel van die Amerikaanse PGA-reeks is.

Die 23-jarige Thompson, wat nog nie ʼn toernooi in die PGA-reeks kon wen nie, het sy 62 houe in die eerste ronde met 64 houe in die tweede ronde opgevolg en is op 126 (-18) twee houe voor die Spanjaard Jon Rahm (128, -16).

Hulle word op 131 houe (-13) deur Joo-Hyung Kim en Sung-jae Im (albei Korea), JT Poston, Tyler Duncan en die Aussie Jason Day gevolg.

Suid-Afrika se Garrick Higgo en Christiaan Bezuidenhout is albei op 135, gevolg deur Dean Burmester (136), Erik van Rooyen (137) en MJ Daffue (139).

Dylan Frittelli (147) het kwaai gesukkel.

In die Amerikaanse LPGA-reeks se Spelerstoernooi wat by die Lake Nona-buiteklub in Orlando, Florida, beslis word, loop die Kanadees Brooke Henderson (133, -11) met vier houe voor die Amerikaner Nelly Korda (137, -7).

Hulle word gevolg deur Wei Ling Hsu (Korea) en die Brit Charley Hull (138).

Suid-Afrika se Paula Reto is op 143 en Ashleigh Buhai op 144 houe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.