Ernie lei internasionale span in gholfnuutjie

Suid-Afrika se Ernie Els. (Foto: Raj Mehta/Getty Images North America/AFP)

ʼn Gholfnuutjie sien vandeesweek die lig wanneer die Amerikaanse Kampioenereeks ʼn internasionale driehoekige kompetisie, geskoei op die gesogte tweejaarlikse Ryderbeker-kragmeting, aanbied.

Die nuwe spankompetisie vir seniors sal ʼn sterk Suid-Afrikaanse geur hê met die land se gewilde strydros Ernie Els wat een van die drie spankapteins is.

Els sal die internasionale span lei wat saam met ʼn Amerikaanse en Europese span sake sal uitspook om die Wêreldkampioenebeker.

Jim Furyk en Darren Clarke is die kapteins van onderskeidelik die Amerikaanse en Europese spanne.

Elke span bestaan uit ses lede en altesame 24 kragmetings sal onderling tussen die drie spanne beslis word. Elke span ding gelyktydig mee met die ander twee spanne in die kragmetings wat oor nege putjies elk beslis sal word. Punte word op elke putjie toegeken aan die twee spanne wat die beste vertoon.

Die span wat aan die einde van al drie dae se wedstryde die meeste punte ingesamel het, sal as die kampioen gekroon word. Op die eerste twee dae sal drie pare van elke span twee keer teen mekaar speel.

In die eerste van die dag se kragmetings sal albei spelers van ʼn span hul bofhou slaan waarna hulle een balletjie sal kies en dan om die beurt speel totdat die balletjie in die blikkie is.

In die dag se tweede kragmetings sal elke speler sy eie balletjie speel met die beste telling wat getel sal word. Die laaste dag van die nuwe kompetisie sal 12 enkelspel-kragmetings behels.

Els sal sy landgenoot Retief Goosen aan sy sy hê wanneer hulle sake uitspook met die Yanks en Europese sterre van weleer.

Dit wemel van Major-kampioene in die drie spanne se geledere met nie minder nie as nege spelers wat grotes gewen het wat in aksie sal wees.

Byna al die huidige topspelers in die Kampioenereeks soos Steven Alker, Bernhard Langer, Miguel Angel Jimenez, Steve Stricker, Jerry Kelly en David Toms het ingestem om saam met die gerekende kapteins in die nuwe spantoernooi mee te ding.

Els, Furyk en Clarke spog met ses Major-titels en meer as 100 internasionale toernooi-oorwinnings tussen hulle.

Furyk het in nie minder nie as nege Ryderbeker-kragmetings gespeel en Clarke in vyf.

Els was op sy beurt vyf keer deel van die internasionale Presidentebekerspan en het in 2019 die span gelei.

Die toernooi begin Donderdag by die Concession-klub in Bradenton in Florida, VSA, en eindig Sondag.

Saterdag is egter nie ʼn speeldag nie met die deelnemende spelers wat saam met borge en belanghebbendes in ʼn pro am-toernooi sal speel.

Die volledige spanne is:

Internasionale span: Ernie Els (SA, k), Retief Goosen (SA), Stuart Appleby (Aus), Vijay Singh (Fidji), Steven Alker (NS), Stephen Ames (Kan), K.J. Choi (SK).

Europa: Darren Clarke (N-Ier), Colin Montgomerie (Skot), Jesper Parnevik. (Swede), Miguel Angel Jimenez (Spa), Robert Karlsson (Swe), Alex Cejka (Dui), Bernhard Langer (Dui).

Amerika: Jim Furyk, Billy Andrade, Steve Stricker, Jerry Kelly, Justin Leonard, Brett Quigley, David Toms.

Bykomende bron: PGA Tour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.