Fleetwood wen Afrika se Major

Engeland se Tommy Fleetwood (17 November 2019) (Foto: AP Photo/Christiaan Kotze)

’n Week of wat ná die Springbokke vir Engeland in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan ore aangesit het, het ’n Engelsman die laaste gelag in Afrika se Major-gholfkompetisie.

Die 28-jarige Tommy Fleetwood het vandag op Sun City ses houe agter die oornag-voorloper, Suid-Afrika se Zander Lombard, begin.

Maar ’n skitterronde van 65, wat drie arende ingesluit het, het egter ’n valbylstryd teen Swede se Marcus Kinhult afgedwing. Kinhult was die bestendigheid vanself met sy ronde van 68, maar Fleetwood het hul tweestryd heel gemaklik gewen.

Dit is waarskynlik die grootste gholf-terugvegpoging van die jaar en die Brit het die wenjtek van $2.5 miljoen in sy sak gesteek.

“Dit is rêrig cool om ’n toernooi te wen. Boonop staan ek nou ook die kans om die Race to Dubai te wen; iets waaroor ek baie bevoorregd is,” het hy gesê.

Dit is sy eerste sege sedert Januarie 2018 en hy is nou tweede op die Race to Dubai-ranglys.

Louis Oosthuizen was die beste onder die Suid-Afrikaners en het in die gesamentlike sesde plek saam met die verdedigende kampioen, Lee Westwood, geëindig.

Ernie Els het met ’n telling van +7 klaargemaak.

Uitslae:

  1. Tommy Fleetwood (Engeland): -12
  2. Marcus Kinhult (Swede): -12
  3. Jason Scrivener (Australië); ,Thomas Detry (Duitsland), Bernd Wiesberger (Oostenryk): -8
  • Ander Suid-Afrikaners:

Louis Oosthuizen (-7); Zander Lombard (-6); Christiaan Bezuidenhout (+1); George Coetzee (+2); Erik van Rooyen (+2); Branden Grace (+3);  Justin Harding (+6); Ernie Els (+7); Richard Sterne (+12)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ore ·

Ware kampioen.Jammer ons sterre soos Louis,Ernie,Zander,Branden ens het nie die nodige BMT om sulke grotes te wen nie.Louis was sekerlik die teleurstelling van die dag.

Scalla ·

Lyk of die Woods sinoniem is met gholf ,Tommy Fleetwood, Lee Westwood, Tiger Woods en ander speel in die Wood.

Gert van Wierdapark ·

Dit was skitterende gholf wat die Engelse “Simson” opgedis het! Om die 4 syfer 5 putjies met 3 arende en n voeltjie te verniel, wil gedoen wees! Louis Oosthuizen en Zander Lombard kan net hulself blameer vir hul laaste rondtes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.