Gesoute Yanks gunstelinge by Presidentebeker

Die Suid-Afrikaner Trevor Immelman is die kaptein van die internasionale gholfspan. (Foto: Warren Little/GETTY/AFP)

’n Bloedige slagting word die volgende paar dae gevrees wanneer die tweejaarlikse Presidentebeker-toernooi beslis word.

Die Suid-Afrikaner Trevor Immelman se internasionale gholfspan word absoluut geen greintjie van ’n wenkans gegun in hul kragmeting in Charlotte in Noord-Carolina met die VSA nie.

Die negatiewe sentiment jeens Immelman en sy troepe is heeltemal verstaanbaar as die twee gholfspanne op papier met mekaar vergelyk word. Die magtige Yanks troon in alle opsigte kop en skouers bo hul teenstanders uit en vrese vir ’n ongenadiglike slagting is ’n mens se eerste reaksie as die statistieke van nader bestudeer word.

Elf van die altesame 12 VSA-spanlede tel onder die wêreld se top 18, met Kevin Kisner (nr. 25) die enigste wat nie onder die voorste 20 spelers gereken word nie.

Daarteenoor kan die internasionale span slegs met twee spelers spog wat onder die top 20 tel. Hulle is Hideki Matsuyama (nr. 17) van Japan en Sungjae Im (nr. 19) van Suid-Korea.

Tom Kim (22), Corey Conners (26) en Adam Scott (30) is die volgende internasionale topspelers volgens die wêreldranglys.

Die Yanks se twaalftal is gesoute mededingers op die Amerikaanse PGA-reeks en het sedert die vorige Presidentebeker-kragmeting in Melbourne nie minder nie as 39 toernooi-oorwinnings behaal in vergelyking met die internasionale span se kwota van 20.

Bestendigheid is ook ’n sterk punt van die Yanks met altesame 218 top-10-vertonings sedert Melbourne. Die internasionale sterre het dié prestasie 148 keer vermag.

Ranglyste en bestendigheid is egter nie altyd die bepalende faktor wat sukses meebring nie en ’n speler se vermoë om druk te verwerk, is eerder die regte resep vir sukses.

En dis presies waar die Yanks die span van Immelman ore aansit.

Scottie Scheffler, Jordan Spieth, Justin Thomas en Collin Morikawa se gerekende spel onder druk het hulle al sukses op gholf se grootste verhoë verseker, terwyl al die ander Yanks met die uitsondering van Cameron Young weet wat dit verg om ’n trofee omhoog te lig.

Druk blyk dus nie ’n struikelblok vir die Yanks te wees nie. Inteendeel, kenners reken die span se Major-kampioene vertoon beter hoe groter die druk is en hoe donkerder kanse op sukses blyk te wees.

Wat die internasionale span betref, bekla ondersteuners van die span hul lot omdat Immelman heelwat sterre nie kon kies nie weens hul oorlopery na die nuwe, omstrede LIV-reeks. Wel, om eerlik te wees, die Yanks het meer spelers weens dié rede verloor.

En Immelman kan ook nie ervaring as ’n verskoning gebruik nie. Hoewel sy span agt groentjies insluit, spog hulle met 69 Presidentebeker-kragmetings agter die blad teenoor Amerika, wat ses groentjies in die veld stoot, se 42. Dié syfer is egter skeefgetrek deur die Aussie Adam Scott se 44 wedstryde in ’n allemintige nege verskynings teen die Yanks.

Met ’n groot pak slae wat skynbaar wink, is daar net een ding wat die internasionale span die volgende paar dae kan red: suiwer en akkurate setwerk elke keer as dit tel.

Maar, soos die grootste kampioene jou sal vertel, is dít baie moeiliker gesê as gedaan.

Immelman het egter drie van die wêreld se heel bestes as dit by setwerk kom. Christiaan Bezuidenhout, Taylor Pendrith en Sungjae Im is so goed soos jy kry op die kort grassies en hul setysters lyk soms soos glinsterende towerstawwe in hul hande eerder as gholfstokke.

Wie weet, miskien kan dié drietal hul spanmaats aanspoor tot ongekende sukses. Of ten minste ’n bloedige loesing en pynlike tranedal verhoed.

*Die spanne is:

VSA: Sam Burns, Patrick Cantlay, Tony Finau, Max Homa, Billy Horschel, Kevin Kirsner, Collin Morikawa, Xander Schauffele, Scottie Scheffler, Jordan Spieth, Justin Thomas, Cameron Young.

Internasionale span: Christiaan Bezuidenhout (SA), Corey Conners (Kanada), Cameron Davis (Australië), Sungjae Im (Suid-Korea), Tom Kim (Suid-Korea), KH Lee (Suid-Korea), Hideki Matsuyama (Japan), Sebastian Munoz (Colombië), Si Woo Kim (Suid-Korea), Taylor Pendrith (Kanada), Mito Pereira (Chili), Adam Scott (Australië).

Die afslaantye vir die vier dae is:

Donderdag:

19:05: Cantlay en Schauffele t. Scott en Matsuyama.

19:17: Spieth en Thomas t. Im en Conners.

19:29: Morikawa en Young t. Tom Kim en Lee.

19:41: Scheffler en Burns t. Si Woo Kim en Davis.

19:53: Finau en Homa t. Pereira en Pendrith.

Vrydag: Vyf beterbal-kragmetings vanaf 17:35

Saterdag: Vier beurtspel-kragmetings vanaf 13:12. Vier beterbal-kragmetings vanaf 18:05.

Sondag: Twaalf enkelspel-kragmetings vanaf 18:02.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.