Gholf: Cam Smith aan die brand in LIV-toernooi

Argieffoto van Cam Smith. (Foto: Stacy Revere / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / AFP)

Die organiseerders van die omstrede LIV-gholfreeks het Vrydagaand in Boston in die VSA met breë glimlagte gaan slaap nadat hul twee nuwe aanwinste, Cameron Smith van Australië en Joaquin Niemann van Chili, van die room afgeskep het in hul eerste toernooie.

Smith en Niemann is saam derde (64, -6) ná die eerste rondte, met Matthew Wolff en Talor Gooch (albei 63, -7) wat die pas aangee.

Smith het twee arende op twee van die syfervyf-putjies aangeteken en Niemann was deurgaans baie bestendig.

Wolff het ook die eerste kolhou in die reeks op een van die syferdrie-putjies aangeteken.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is Louis Oosthuizen (66, -4) stewig geplaas, met Branden Grace (-3), Charl Schwartzel (-2) en Shaun Norris (gelyk aan baansyfer) wat ook saamgesels.

Die Amerikaanse veteraan Phil Mickelson, wat vooraf gespog het oor sy goeie voorbereiding, het op +4 geëindig is en in die 45ste posisie.

Die swakste rondte is deur Sihwan Kim (87, +17) aangeteken, maar hy hoef nie slapelose nagte daaroor te hê nie, want al 47 spelers (Henrik Stenson het hom onttrek) deel ná drie rondtes in die enorme prysgeld.

*  In Denemarke loop Ross McGowan van Engeland voor ná die tweede rondte van die Made in Himmerland-toernooi wat deel is van die Dubai World World Tour (Europese reeks).

McGowan is op 127, 16 houe onder baansyfer nadat hy rondtes van 62 en 65 gespeel het.

Die Italianer Francesca Laporta en Richard Mansell van Engeland is een hou agter op 128 (-14), gevolg deur die Skot Ewen Ferguson, Soren Kjeldsen en Marcus Helligkilde, albei van Denemarke, en Tom Lewis (Engeland), almal op 130.

Suid-Afrika se Justin Walters het sy spiere gebult op 132, met Darren Fichardt en George Coetzee (albei op 135), Zander Lombard (137), Thomas Aiken (138) en Justin Harding (138) wat ook saamgesels.

* In die Amerikaanse LPGA-reeks sukkel Suid-Afrika se Ashleigh Buhai straks nog om die spinnerakke van haar onlangs glorie in die Britse Ope vir vroue af te skud in die Dana-Ope wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks.

Die Amerikaner Lucy Li (132, -10) is ná die tweede rondte met twee houe voor nadat sy tellings van 68 en 64 aangeteken het.

Sy word gevolg deur Ruoning Yin van China en Carlota Ciganda van Spanje op 134 (-8) met Lexi Thompson (VSA) en Hye-Jin Choi (Korea) saam vierde op 135, -7.

Buhai is in die 33ste posisie op 138 (-4) nadat sy tellings van 71 en 67 in die eerste twee rondtes aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.