Gholf: Daffue vaar puik, maar Bezuidenhout trap klei

Suid-Afrika se MJ Daffue. (Foto: ROSS KINNAIRD / Getty Images via AFP)

Die son het Vrydag in Hawaii helder geskyn op Suid-Afrika se MJ Daffue, maar die onweerswolke het om Christiaan Bezuidenhout saamgepak.

Daffue het 68 houe in die tweede ronde van die Sony-gholftoernooi by die Waialae-buiteklub aangeteken.

Die toernooi is deel van die Amerikaanse PGA-reeks en spog met reuseprysgeld van R132 miljoen.

Daffue het 67 houe in die eerste ronde op sy telkaart ingevul en hy is op 135 houe (-5) ses houe agter die voorloper, die onbesonge Amerikaner Chris Kirk.

Kirk (129, -11) is een hou voor sy landgenote Taylor Montgomery en J.J. Spaun (130) met nog twee Amerikaners Hayden Buckley en David Lipsky saam vierde op 131 (-9).

Bezuidenhout (147, +7) kon nie afsnypunt haal nie.

* In Abu Dhabi loop die Kontinentale Europese span met 3-2 teen Brittanje en Ierland voor ná die eerste dag van die nuwe Herobeker-spantoernooi.

Skotland se Robert MacIntyre en Seamus Power van Ierland het Oostenryk se Sepp Straka en die Pool Adrian Meronk met 3 en 2 geklop om aan die Britte en Iere hul enigste oorwinning te besorg nadat vier ander wedstryde gehalveer is.

Die Europese span se Thomas Detry (België) en Frankryk se Antoine Rozner het Tyrrell Hatton en Jordan Smith (albei Engeland) op die 18de putjie geklop vir hul span se eerste oorwinning.

Die Europeërs se tweede oorwinning is deur die Belg Thomas Pieters en Alex Noren van Swede behaal wat die Skot Ewen Ferguson en Tommy Fleetwood van Engeland met 2 voor geklop het.

Die Herobeker-toernooi is ingestel om aan die spelers groter blootstelling en ervaring in spantoernooie te gee met die oog op die Ryderbeker-toernooi wat in September vanjaar in Rome tussen Europa en die Verenigde State van Amerika beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.