Gholf: DeChambeau dink nie te veel van Louis-hulle

Bryson DeChambeau van die VSA in aksie. (Foto: Andrew Redington/Getty Images/AFP)

Die grootmond Amerikaner Bryson DeChambeau, kaptein van die Crushers-gholfspan, was Vrydag op die Doral-gholfbaan in Miami, Florida, vol bravade toe hy die Suid-Afrikaanse Stingers-span as sy teenstanders vir die halfeindrondte van die LIV-gholftoernooi se laaste toernooi gekies het.

Albei spanne het direk tot die halfeindrondte van die spantoernooi deurgedring (wat die hoogtepunt van die LIV-reeks is), maar waar DeChambeau een van die sogenaamde swakker spanne kon kies wat in Vrydag se kwarteindrondte moes meeding, het sy keuse op Suid-Afrika se Louis Oosthuizen, Branden Grace, Charl Schwartzel en Hennie du Plessis geval.

“Gegewe die beserings (Grace se maagspierbesering) wat hulle gehad het en die feit dat ek my 4-yster verder geslaan het as sy (Oosthuizen se) no. 1-stok in Jeddah, glo ek ons het ʼn goeie kans,” het DeChambeau aan LIV-gholf gesê.

Maar Oosthuizen het teruggekap: “Ek weet dat ek eerste ingeslaan het setperk toe. Ek is nie seker hoe hy onder druk vaar nie. Ons sal maar moet sien,” het Oosthuizen gesê.

Oosthuizen speel in die enkelspel teen DeChambeau en Grace teen Paul Casey. Schwartzel en Du Plessis pak Anirban Lahiri en Charles Howell II in die beurtspel.

* Op die Butterfield-baan in Bermuda loop Ben Crane, wat laas in 2014 ʼn toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks kon wen, met een hou voor ná die tweede rondte van die Bermuda-kampioenskap.

Dit het gevolg nadat hy 62 houe, sy laagste telling in tien jaar, in die tweede rondte aangeteken het.

Die 46-jarige Crane, wat gewik en geweeg het of hy moet speel, het die uitnoding aanvaar nadat hy deur die borge genooi is.

Crane (128, -14) is een hou voor sy Amerikaanse landgenote Robby Shelton, Austin Smotherman, Adam Schenk en Ben Griffin asook die Australiër Aaron Baddely, wat almal op 129 houe (-13) geëindig het.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (132, -10) is stewig geplaas met MJ Daffue (135, -7) en Garrick Higgo (136, -6) ook in die wedloop.

* In die Sonskynreeks se laaste Vodacom Of Origins-toernooi wat by Pinnacle Point in Mosselbaai gespeel word, loop Martin Rohwer (139, -5) met een hou voor ná die tweede rondte nadat hy rondtes van 68 en 71 gespeel het.

Hy word gevolg deur Albert Venter (140, -5) en Ockie Strydom, Jacques P de Villiers en Combrinck Smit (almal 141, -3) met Malcolm Mitchell, Jared Harvey en Hennie O’ Kennedy (al drie op 142, -2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.