Gholf: Filippi kook op Dainfern

Luca Filippi (Foto: Luca Filippi/Facebook)

Die 23-jarige Suid-Afrikaner Luca Filippi het Vrydag by die Dainfern-buiteklub, wat tussen Johannesburg en Pretoria geleë is, ʼn vroeë verjaarsdaggeskenk in die tweede ronde van die Stella Artois-gholfoernooi gekry wat deel is van die Sonskynreeks.

Filippi, wat komende Woensdag verjaar, het die eerste keer in sy loopbaan 29 houe oor nege putjies in ʼn toernooi aangeteken en loop saam met die Amerikaner Dan Erickson op 128 houe (-16) voor.

Filippi en Erickson is twee houe voor Darren Fichardt, Lyle Rowe, Tristen Strydom, Luke Jerling en Jovan Rebula, (almal op 130, -14).

Jaco van Zyl en Keagan Thomas is saam agtste op 131 (-13).

Filippi, wat vanuit die Milnerton-klub in Kaapstad speel, het in 2020 ʼn beroepspeler geword.

Hy het Vrydag sy eerste nege putjie in een hou onder die baansyfer voltooi, maar hy het op die tweede nege vlam gevat en in ʼn magiese 29 houe voltooi.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se RBC Heritage-toernooi wat by Harbour Town se Links-baan by Hilton Head Island in Amerika gespeel word, loop die Amerikaner Jimmy Walker (130, -12) met drie houe voor sy landgenote Xander Schauffele en Scottie Scheffler en Justin Rose van Engeland (almal 133, -9).

Hulle word gevolg deur die Noorweër Viktor Hovland, die Engelsmanne Tommy Fleetwood en Aaron Rai en Patrick Cantlay en Mark Hubbard van Amerika (almal op 134, -8).

Suid-Afrika se Ernie Els is 34ste op 138 houe (-4) nadat hy tellings van 68 en 70 houe op sy telkaart ingevul het. Els word gevolg deur Christiaan Bezuidenhout en Garrick Higgo (albei 139, -3).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se Lotte-kampioenskap wat in Hoakalei in Hawaii beslis word, loop Yu-Jin Suno van Korea op 136 houe (-9) met een hou voor Linnea Stroem van Swede, die Australiër Grace Kim en Georgia Hall van Engeland, wat almal saam op 137 houe (-8) geëindig het.

Suid-Afrika se Paula Reto kon nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.