Gholf: Goose en Ernie blaf, maar Langer klou vas

Ernie Els (Foto: Patrick McDermott/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se gholflegendes Retief Goosen (54) en Ernie Els bly (53) op die spoor van die 65-jarige Bernard Langer van Duitsland ná die derde ronde van die Amerikaanse Ope vir seniors wat by SentryWorld in Wisconsin gespeel word.

Maar dan sal Langer, wat op pad is om gholfgeskiedenis te maak deur die oudste speler te word wat die Ope vir seniors kan wen en ook die Amerikaanse PGA-rekord van 45 oorwinnings te laat spat, die kluts moet kwytraak.

Langer was in die derde ronde weer baie bestendig en hy het 68 houe aangeteken. Hy is op 207 houe (-6) met twee houe voor.

Langer, wat reeds in 2010 die Amerikaanse Ope vir seniors gewen het, se peil is uitstekend nadat hy in Februarie vanjaar die Chubb-ope vir seniors gewen het. Hy het toe Hale Irwin se rekordgetal van 45 oorwinnings in die Amerikaanse reeks geëwenaar.

Retief Goosen (Foto: Patrick McDermott/Getty Images/AFP)

As Langer wen, sal hy ook Allen Doyle se naam uit die rekordboeke vee wat in 2006 die Amerikaanse Ope vir seniors op die ouderdom van 57 jaar, 11 maande en 14 dae gewen het.

Die Amerikaner Jerry Kelly was Saterdagaand tweede op 209 (-4) gevolg deur sy landgenoot Steve Stricker (210, -3).

YE Yang van Korea en Goosen is saam vierde op 212 (-1) met Els op 215 (+2) saam negende.

James Kingston is op 219 saam in die 20ste posisie.

Langer was vuurwarm in die derde ronde en het met twee opeenvolgende voëltjies begin, maar op die vierde putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Hy het dadelik vergoed met ʼn voëltjie op die vyfde putjie en het die volgende 11 putjies in baansyfer voltooi. Hy het op die 17de putjie nóg ʼn voëltjie behaal om aan sy voorsprong te klou.

*  In die Amerikaanse PGA-reeks se Rocket Mortgage Classic-toernooi wat by die Detroit-buiteklub gespeel word, loop die Amerikaner Rickie Fowler (196, -20) met een hou voor die Kanadees Adam Hadwin (197, -19) ná die derde ronde.

Nóg ʼn Kanadees, Taylor Pendrith, is derde op 198 (-18), met die Engelsman Aaron Rai en Peter Kuest van Amerika saam vierde op 199 (-17).

Suid-Afrika se MF Daffue (206) vaar skaflik en is in die 30ste posisie met Christiaan Bezuidenhout en Garrick Higgo saam 51ste op 208.

Fowler, wat ʼn verloordroogte van vier jaar beleef, het tellings van 67, 65 en 64 aangeteken.

Hy was twee weke gelede in Los Angeles stewig op koers in die Amerikaanse Ope, maar hy het 75 in die laaste ronde aangeteken en sy kans weggegooi.

Hy het verlede week in die Travelers-kampioenskap 60 in die derde ronde aangeteken, maar in die laaste ronde 69 houe aangeteken om 13de te eindig.

*  In die Britse Meesters wat op The Belfry gespeel word, is Suid-Afrika se Bryce Easton en Justin Walters saam agtste op 211 houe (-5) ná die derde ronde, maar hulle is net twee houe agter die voorlopers, Oliver Wilson, Andy Sullivan en James Morrison (al drie van Engeland), Joost Luiten (Nederland), Niklas Norgaard van Denemarke en Guido Migliozzi van Italië wat saam op 209 houe (-7) geëindig het.

Deon Germishuys (213, -3), Jayden Schaper (215, -1), Thriston Lawrence en Thomas Aiken (albei 216), Wilco Nienaber (217), Ockie Strydom (219) en Hennie du Plessis (220) is verder terug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.