Gholf: Kitayama byt vas in Arnold Palmer-toernooi

Kurt Kitayama (Foto: Michael Reaves/Getty Images/AFP)

Die Amerikaanse gholfspeler Kurt Kitayama het vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) senuwees van staal gewys toe hy by die Bay Hill-gholfklub in Orlando, Florida, die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi met een hou gewen het.

Kitayama het 70 houe in die laaste ronde aangeteken en het op 279 houe (-9) geëindig.

Sy totaal was een hou beter as dié van die Noord-Ier Rory McIlroy en die Amerikaner Harris English (280, -8) en twee houe beter as dié van die Engelsman Tyrrell Hatton en die Amerikaners Jordan Spieth, Scottie Scheffler en Patrick Cantlay (almal 281, -7).

Kitayama het sy eerste oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks verseël toe hy op die 17de putjie ʼn voëltjie aangeteken het.

Soos die meeste ander spelers het hy warm en koud geblaas in die laaste ronde, want sy ronde het vier voëltjies ingesluit, maar hy het ook twee keer houe aan baansyfer afgestaan. Dit het ʼn nagmerrie van drie houe oor syfer op die 9de putjie ingesluit wat hom tydelik sy voorsprong laat inboet het.

McIlroy, wat sewe voëltjies in die laaste ronde aangeteken het, het op vyf putjies verbrou deur houe aan baansyfer af te staan.

Hy kon op die 18de putjie ʼn uitspeelstryd teen Kitayama afgedwing het, maar hy het met sy sethou van sowat 2,5 m misluk.

Die 30-jarige Kitayama, wat 46ste op die wêreldranglys voor die toernooi was, het reeds drie toernooie in die Road to Dubai (Europese reeks) gewen, maar was nog segeloos in die Amerikaanse PGA-reeks.

Hy het voor die toernooi $4,1 miljoen (VSA dollar) in sy loopbaan verdien, maar sy verdienste met $3,5 miljoen (bykans R62 miljoen) laat bult, asook ʼn vrypas na vanjaar se Britse Ope gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.