Gholf: McIlroy en Scheffler rooiwarm

Rory McIlroy tydens ‘n toernooi in Dubai. (Foto: Karim SAHIB / AFP)

Daar is ʼn ou-ou uitdrukking in sport dat peil net tydelik is, maar gehalte permanent.

Dit het Rory McIlroy van Noord-Ierland en Scottie Scheffler van Amerika, wat albei redelik onlangs voorlopers op die wêreldranglys was, Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) by die Bay Hill-buiteklub in Orlando, Florida in die derde ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi weer onderstreep.

McIlroy, wat in die eerste ronde 73 houe aangeteken het, het dit met tellings van 69 en 68 opgevolg. Hy het vier voëltjies in die derde ronde aangeteken om op 210 houe (-6) vinnig nader te kruip aan die voorloper, die Amerikaner Kurt Kitayama.

Kitayama, wat 72 houe aangeteken het, is op 207 (-9) met een hou voor Scheffler, die verdedigende kampioen, asook Viktor Hovland van Noorweë, wat albei op 208 houe (-8) geëindig het.

Hulle word op 209 (-7) gevolg deur die Engelsman Tyrrell Hatton, met nog ʼn Amerikaner Harris English en McIlroy saam op 210 (-6). Die drie Amerikaners, Jordan Spieth, Justin Thomas en Pierceson Coody blaas in hul nekke op 211 (-5).

Die toernooi is een van die Amerikaanse PGA-reeks se verkose toernooie, waar spelers om prysgeld van $20 miljoen (bykans R362 miljoen) meeding, met die wenner wat $3,6 miljoen (sowat R65 miljoen) in sy sak sal steek.

Dit dien as teenvoeter vir die geldryke LIV-gholfreeks.

* Op die Modderfontein-baan het die 20-jarige Lily May Humphreys van Engeland haar eerste toernooi in die Europese reeks vir vroue gewen toe sy op 280 houe (-12) geëindig het.

Sy is in die tweede plek gevolg deur Ana Peleaz van Spanje en Moa Folke van Swede op 282 (-10), met Klara Spilkova van Tsjeggië, Nicole Broch Estrup van Denemarke en Suid-Afrika se Kiera Floyd saam vierde op 283 (-9).

Nadia van der Westhuizen (284, -8) was sewende met Lee-Ann Pace, Nicole Garcia en die Australiër Kirsten Rudgeley saam agtste op 285 (-7).

* Op die Sentosa-baan in Singapoer is Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (208, -11) sewende ná die derde ronde van die Wêreldkampioenskap-toernooi vir vroue, wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks

Jin-Young Ko van Korea is op 202 (-17) met twee houe voor Danielle Kang van Amerika (204, -15), met nog twee Amerikaners Allisen Cornuz en Nelly Korda saam op 205 (-14).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.