Gholf: Nienaber bult sy spiere in Noord-Ierland

Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Die jong Wilco Nienaber van Suid-Afrika het met ʼn skitterende 63 houe in die derde ronde van die Europese gholfreeks en DP World Tour se Handa-wêrelduitnodigingstoernooi wat by die Galgorm Castle-buiteklub in Noord-Ierland gespeel word, na vore gestorm.

Nienaber, wat die laagste telling van die week aangeteken het, het saam met Alex Fitzpatrick van Engeland op 203 houe (-8) tweede in die klubhuis geëindig.

Nienaber het net een voëltjie oor die eerste nege putjies aangeteken, maar dit met ses voëltjies oor die tweede nege opgevolg en met 63 houe (-7) afgesluit.

Nadat hy 72 en 68 houe in die eerste twee rondes aangeteken het, het die 23-jarige Nienaber die goeie toestande benut en met sy lang bofhoue die baan aan flarde geruk.

Die onbesonge Engelsman Daniel Brown is steeds die voorloper op 197 houe (-14). Hy is ses houe voor Nienaber en Fitzpatrick.

Die Spanjaard Adrian Otaegui is vierde op 204 (-7) met John Parry van Engeland vyfde op 205 (-6). Eddie Pepperell van Engeland en Angel Hidalgo (Spanje) is op 206 (-5).

In die vroueafdeling is Gabriela Cowley (Engeland) voor op 211 (-6). Cowley, wat maar 226ste op die wêreldranglys vir vroue is, is een hou voor Amerika se Ryan O’Toole en Esther Henseleit van Duitsland.

Die topman en -vrou sal albei sowat R4,2 miljoen ontvang.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se BMW-toernooi wat by die Olympia Fields-buiteklub in Illinois gespeel word, het Scottie Scheffler (Amerika) die stang saam met Matt Fitzpatrick van Engeland (Alex Fitzpatrick se broer) vasgebyt.

Scheffler het tellings van 66, 69 en 64 in die eerste drie rondes op sy telkaart ingevul en loop saam met Fitzpatrick voor op 199 houe (-11).

Hulle word op 200 houe gevolg deur die Amerikaner Brian Harman, met Max Homa (Amerika) vierde op 201 (-9).

Viktor Hovland van Noorweë en Rory McIlroy van Noord-Ierland is saam vyfde op 202 (-8), met Justin Rose (Engeland) en die Amerikaners Sam Burns, Xander Schauffele en Denny McCarthy saam sewende op 203 (-7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.