Gholf: SA se Stinger-span hou aan byt

(Foto: LIV Golf/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Stinger-gholfspan het gisteraand se tweede ronde van die LIV-gholftoernooi wat by die Trump National-baan in Washington DC gespeel word, drie houe agter die voorlopers in die spanafdeling afgesluit, maar dit sal dom van die voorlopers wees om hulle in Sondagaand se derde en laaste ronde af te skryf.

Die Stingers (-15) is saam met die RangeGoats in die tweede posisie, met die Torque-span wat op -18 voorloop.

Die Suid-Afrikaners, Louis Oosthuizen (-6), Branden Grace (-5), Dean Burmester (-4) en Charl Schwartzel (+1), het twee weke gelede in Tulsa voortgegaan om eerste in die spanafdeling te eindig.

Daar is ʼn hegte band tussen die Suid-Afrikaners en hulle vul mekaar goed aan.

Die Chileen Mito Perreira (-9) is die voorloper ná die tweede ronde met die Amerikaner Harold Varner III (-8) tweede, gevolg deur Henrik Stenson van Swede en die Amerikaner Kevin Na (albei -7) met die Suid-Afrikaners wat in hul nekke blaas.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Charles Schwab-toernooi wat in Texas gespeel word, het die Engelsman Harry Hall, wat ná die tweede ronde voorgeloop het, in die derde ronde byna sy voorsprong weggegooi, maar twee voëltjies op die laaste twee putjies was sy reddingsboei.

Hall loop saam met die Amerikaner Adam Schenk voor op 200 houe (-10). Hulle is een hou voor Harris English van Amerika (201), met Emiliano Grillo van Argentinië en Justin Suh van Amerika saam vierde op 204 (-6).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (208, -2) is in die 25ste posisie nadat hy 70 houe in die derde ronde aangeteken het.

* In Cromvoirt in Nederland is Suid-Afrika se Deon Germishuys (209, -7) net drie houe agter die voorloper Pablo Larrazabal van Spanje ná die derde ronde van die KLM-Ope.

Larrazabal word in die gesamentlike tweede posisie deur sy landgenoot Adrian Otaegui en die Deen Rasmus Hojgaard (saam op 207, -9) gevolg.

Die toernooi is deel van die Europese DP World Tour.

Van die ander Suid-Afrikaners is Jayden Schaper (215) en Louis de Jager (216) aan die onderent van die telbord.

* In die plaaslike Sonskynreeks het die 26-jarige Louis Albertse by die Irene-buiteklub in die derde ronde aan sy voorsprong in die KitKat Cash and Carry-toernooi geklou.

Albertse is ná sy tellings van 66, 64 en 67 op 197, 19 houe onder die baansyfer en stewig op koers om met die wentjek van R320 000 weg te stap.

Malcolm Mitchell (201, -15) is op Albertse se spoor in die tweede posisie, gevolg deur Kyle Barker op 202 (-14) met Trevor Fisher jr., Jovan Rebula en Adam Breen op 203 (-13) saam vierde. Die jong Breen het 64 houe in die derde ronde aangeteken.

* In die Belgiese Ope, wat deel is van die Europese LPGA-vrouereeks en by die Naxhelet-buiteklub gespeel word, het Suid-Afrika se Stacy Lee Bregman 76 houe in die tweede ronde aangeteken en is haar aanslag daarmee heen.

Bregman is saam met Lee-Anne Pace op 145 houe in die 38ste posisie, met Casandra Alexander een hou beter op 144.

Die Spanjaard Maria Hernandez loop op 136 houe (-8) met twee houe voor Diksha Dagar van  Indië en Clara Manzalini van Italië, wat albei op 138 houe (-6) in die klubhuis geëindig het.

Hulle word in die vierde posisie gevolg deur Patricia Schmidt van Duitsland, Cara Gainer en Lily May Humphreys (albei van Engeland), Chiara Noja (België), Mireia Prat (Spanje) en Yuri Onishi van Japan (almal op 39, -5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.