Gholf: Stinger-span byt seer in LIV-toernooi

Louis Oosthuizen (Las Vegas, Nevada) (10 Oktober 2021) (Foto: Alex Goodlett/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Suid-Afrikaanse Stinger-gholfspan het die voortou in die spanafdeling ná die tweede ronde van die LIV-reeks se Bedminster-toernooi geneem wat in New Jersey in Amerika gespeel word.

Die Stinger-span, bestaande uit die kaptein Louis Oosthuizen, Dean Burmester, Branden Grace en Charl Schwartzel, het op -11 geëindig en is saam met die Ripper-span voor, gevolg deur RangeGoats (-7) en HyFlyers (-6).

Burmester het die beste van die vier Suid-Afrikaners gevaar en is saam met die Amerikaanse veteraan Phil Mickelson tweede op -5.

Die Australiër Cameron Smith is die voorloper op -9, met Indië se Anirhi Lahiri, Bubba Watson en Patrick Reed (albei Amerika) saam op -4.

Grace is op -3, Schwartzel gelyk aan syfer en Oosthuizen op +1.

*In die Britse Ope vir vroue wat in Surrey net buite Londen gespeel word, loop Charley Hull van Engeland en Lilia Vu van Amerika op 207 houe (-9) saam met een hou voor Angel Yin van Amerika en Hyo-Joo Kim van Korea ná die derde ronde.

Hulle het 68 houe in die derde ronde aangeteken en Vu 67.

Yin en Kim is saam derde op 208 (-8).

Die Amerikaner Ally Ewing, wat ná die tweede ronde met vyf houe voor was, het 75 houe in die derde ronde aangeteken en is op 209 (-7) vyfde, gevolg deur Swede se Linn Grant op 210 (-6) en Jiy-Yai Shin (Korea) en Andrea Lee (Amerika), wat saam sewende is op 211 (-5).

Nie een van Suid-Afrika se Ashleigh Buhai, Paula Reto of Lee-Anne Pace kon die afsnypunt ná die tweede ronde oorleef nie.

* By die Zebula-landgoed in Bela-Bela probeer Heinrich Bruiners ʼn verloordroogte van tien jaar in die Sonskynreeks breek wanneer hy as voorloper in die derde ronde van die Vodacom Orgins of Golf-toernooi afslaan.

Bruiners het volgens die Sonskynreeks se webwerf in 2013 sy enigste oorwinning in die reeks behaal het toe hy eerste was, juis in die Vodacom Origins of Golf-toernooi wat by die Euphoria-landgoed in Mookgophong gespeel is.

Hy is op 134 houe (-10) nadat hy Saterdag 67 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Bruiners is een hou voor Trevor Fisher (jr), Pieter Moolman, Jovan Rebula en Jason Smith, wat almal op 135 houe (-9) geëindig het.

Neil Schietekat, Jacques Kruiswijk en Gerhard Pepler is saam op 136, met Lyle Rowe, LB Boshoff en Jonatham Broomhead saam op 137.

Die voorste vroue-speler (mans en vroue speel saam en ding om dieselfde prysgeld mee) is steeds Cara Gorlei, wat 75 houe aangeteken het en op -3 geëindig het.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Wyndham-kampioenskap wat op TPC Southwind in Memphis, Tennessee beslis word, het die Amerikaner Lucas Glover aan sy voorsprong geklou.

Glover, wat 66 houe in die derde ronde aangeteken het, is op 196 (-14) een hou voor sy landgenoot Taylor Moore (197, -13) gevolg deur Engeland se Tommy Fleetwood in die derde plek op 198 (-12).

Jordan Spieth van Amerika, wat ná die eerste ronde voorgeloop het, is saam met sy landgenoot Max Homa vierde op 199 (-11) met Sung-Jae Im (Korea), Emiliano Grillo (Argentinië), Joo-Hyng Kim (Korea), Rory Mcllroy (Noord-Ierland), Patrick Cantlay (Amerika) en Viktor Hovland (Noorweë) almal saam sesde op 201 (-9).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.