Gholf: Woeste wind waai Rahm weg

Jon Rahm in aksie (September 2021) (Foto: Stacy Revere/Getty Images/AFP)

Wanneer die wind woes waai, is die kanse baie goed dat enige gholfspeler se spel kan uitrafel, al is jy ook eerste op die wêreldranglys.

Dit het die Spanjaard Jon Rahm Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in die tweede ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi getref.

Die toernooi word by The Bay Hill-klub in Orlando, Florida gespeel en is deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Rahm, wat ná die eerste ronde met twee houe (65, -7,) voor was, het erg in die wind gesukkel en 76 houe in die tweede ronde aangeteken, wat vier houe meer as die baansyfer is. Hy het tot 13de afgeskuif nadat hy op 141 houe (-3) geëindig het.

Die Amerikaner Kurt Kitayama het sy kans gebruik en met vyf voëltjies ʼn voorsprong van twee houe (135, -9) bo sy Amerikaanse landgenoot Jordan Spieth (137, -7) opgebou.

Hulle word gevolg deur Corey Conners van Kanada en Xander Schauffele van Amerika, wat saam op 138 houe (-6) geëindig het.

Scottie Scheffler (Amerika) is op 140 en Rory McIlroy van Noord-Ierland op 142.

Suid-Afrika se Garrick Higgo is op 147 (+3) met Christiaan Bezuidenhout nog verder terug op 150 (+6).

Die Noorweër Viktor Hovland het ʼn volmaakte gelukhou op die sewende putjie aangeteken.

Die spelers ding mee om prysgeld van $20 miljoen (bykans R362 miljoen) met ʼn wentjek van $3,6 miljoen (bykans R65 miljoen) wat op die wenner wag.

* By die Modderfontein-gholfklub loop die Sweed Moa Folke (209, -10) met een hou voor ná derde ronde van die Joburg-Ope vir vroue wat deel is van die Europese vroue-reeks.

Folke, wat rondes van 72, 66 en 71 aangeteken het, is een hou voor Nicole Brooch Estrup van Denemarke en Klara Spilkova van die Tsjeggiese Republiek (210,-9) met Suid-Afrika se Kiera Floyd  en Lionnea Johannson van Swede saam in die vierde plek op 212, -7.

Hulle word gevolg deur Nicole Garcia van Suid-Afrika, Lily May Humphreys van Engeland en Ana Pelaez van Spanje op 213 (-6).

Suid-Afrika se Lee-Anne Pace is saam negende op 214 (-5).

* By die Sentosa-gholfklub in Singapoer loop Jin-Young Ko van Korea en die Amerikaner Danielle Kang saam voor op -11 ná die tweede ronde van die Wêreldkampioenskap van vroue, wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks.

Hulle word op -10 gevolg deur Nasa Hataoka van Japan, Hyo-Joo Kim (Korea) en Nelly Korda en Elizabeth Szokol (albei Amerika) op -10.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (-6) is saam 15de met haar landgenoot Paula Reto 58ste op +5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.