Gholf: Yuan laat oë rek in Kanada

Carl Yuan (Foto: @TheRealCFry/Twitter)

Die 26-jarige onbesonge Carl Yuan van China is die voorloper ná die tweede ronde van die Kanadese Ope-gholftoernooi wat in Toronto in Kanada beslis word.

Yuan, wat op universiteit vir die Washington Dukes gespeel het, het volgens ESPN as groentjie vanjaar in die Amerikaanse PGA-reeks nog net sewe keer in 20 toernooie die afsnypunt gehaal.

Sy vorige beste vertoning was sy gesamentlike 21ste plek in die Sony-Ope in Januarie in Hawaii.

Nou loop hy ná tellings van 68 en 67 op 135 houe (-9) met een hou voor teen van die wêreld se beste spelers in Kanada.

Yuan, wat sy kans in die reeks gekry het nadat Matthew Wolff hom by LIV-gholf aangesluit het en die veteraan Jim Furyk besluit het om in die reeks vir seniors te speel, is een hou voor Chenotsung Pan van Korea, Corey Conners van Kanada en die twee Engelse Tyrrell Hatton en Aaron Rai.

Ses Amerikaners is saam in die sesde posisie op 137 (-7,) met die Noord-Ier Rory McIlroy, ná rondes van 71 en 67, net drie houe agter op 138 (-6).

Suid-Afrika se Garrick Higgo is saam 23ste op 140, met MJ Daffue op 142.

* In Stockholm is Dale Whitnell van Engeland (127, -17) met ses houe voor Yannik Paul van Duitsland ná die tweede ronde van die Skandinawiese gemengde toernooi, wat deel is van die DP World Tour.

Whitnell het 66 en 61 houe aangeteken en is ses houe voor Paul (133, -11) met die Skot Richie Ramsay op 134 (-10) gevolg deur die Amerikaner John Catlin op 136 (-8). Suid-Afrika se Justin Walters en die Deen Soren Kjeldsen is saam vyfde op 137 (-7).

Louis de Jager is op 142 en Nicole Garcia op 143.

Whitnell het ses voëltjies op die eerste agt putjies behaal en moes die laaste drie putjies in drie houe minder as baansyfer voltooi het om by die magiese 59 uit te kom. Maar hy kon slegs op die 18de putjie nog ʼn voëltjie aanteken.

Die toernooi word gesamentlik deur 78 man- en 78 vrouespelers beslis wat om ʼn enkele pryspot en een trofee meeding.

Engeland se Alice Hewson en Emma Grechi van Frankryk (albei 139, -5) was die beste tussen die vroue (hoewel hulle saam met die mans speel), met Linn Grant van Swede, wat verlede jaar ʼn ongelooflike sege behaal het toe sy die manspelers uitgestof het, op 141 (-3).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se Shoprite Classic-toernooi vir vroue wat by die Stockton-buiteklub in New Jersey beslis word, loop Daniela Holmqvist van Swede (129, -7) met een hou voor Jenny Shin van Korea en Yan Liu van China (albei 130, -6).

Suid-Afrika se Paula Reto, Anna Nordqvist van Swede, Sarah Schmelzel van Amerika, Soo-Bin Yoo van Korea en Georgia Hall is saam vierde op 132 (-4).

Lee-Anne Pace is op 142 houe met Ashleigh Buhai op 143.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.