Twee pekelpennies veroorsaak penarie op ‘Plaasjapie’

Blue en Milandie se geselsies het Etienne benoud gemaak. (Foto: Skermgreep)

Die tempo waarteen daar tans munt geslaan word, het deelnemers van die kykNET-werklikheidsreeks Plaasjapie omtrent onstuimig in Donderdagaand se episode gelaat.

ʼn Verdere R60 000 is van die oorblywende R975 000 pryspot afgetap, nadat beide Etienne de Villiers (36), ʼn bruilof- en geleentheidsbeplanner van Pretoria, Gauteng, en Milandie Grimbeek, ʼn haarstilis van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap, hul pekelpennies gebruik het uit vrees dat hulle uit die spel gestem sou word.

Die wentotaal was aanvanklik R1 miljoen, maar Oranjezicht se Danielle het in verlede week se aflewering dit na R975 000 met haar pekelpennie verlaag.

Jannie Holsthyzen (20), ʼn sekuriteitswag van Pretoria, is eindelik Donderdagaand huis toe gestuur nadat die Groenkloof-span vir die eerste keer ʼn koöperasie-kuier bygewoon het.

Jannie het vandeesweek sy tassies gepak. (Foto: Skermgreep)

“Kyk, my pa het my geleer om te staan by wat ek sê, en ek is nie vir ’n oomblik spyt oor hoe ek gespeel het nie. Ek wens ek kon hom bietjie trotser maak, maar ek is gelukkig oor hoe ek dit gedoen het,” het Jannie oor sy tyd op Plaasjapie vertel.

Daar het in aanloop tot die koöperasie-kuier omtrent ʼn skaakspel op Groenkloof geheers om te bepaal uit wie se silo daar sout getap gaan word, met Jannie, Etienne én Milandie se name wat rondgefluister is.

Tussen Milandie, Etienne en Blue is daar omtrent gekonkel, soveel so dat alle bondgenootskappe se lyne later vervaag is.

Etienne het moontlik bande met té veel mense gesmee. (Foto: Skermgreep)

Milandie en Monique het aanvanklik geglo daar is teikens op die rûe van “swakker spelers”, waarvan hulle en Anelda volgens haar deel is, en wou die sogenaamde sterker spelers wys wie is baas.

Volgens Milandie het Jannie se “gereelde neerhalende opmerkings” haar “onnosel” laat voel.

Etienne, wat vantevore met Riaan en Jannie, maar ook met Milandie bande gesmee het, is gevolglik in ʼn hoek gedruk.

“Sy pla my verskriklik. Ek weet glad nog nie hoe ek hierdie gaan swaai nie, want as sy vir my kyk, sien ek letterlik duiweltjies daar hardloop,” het Etienne oor Milandie se planne gesê.

Groenkloof het vir die eerste keer ‘n uitklopuitdaging verloor. (Foto: Verskaf)

Hy het haar as “bitter gevaarlik” bestempel en gebieg dat hy dit geniet het om te sien hoe Jannie onder haar vel inkruip. “Ek sien so baie dinge vreet aan Milandie, ek kry eintlik lekker, maar hou ook eintlik van haar.”

Blue Kester (39), ʼn gemeenskapsontwikkelingskoördineerder van Bellville in die Wes-Kaap én ʼn vertroueling onder baie op die Groenkloof-plaas, was aanvanklik onseker of Jannie die een moes weet wat groet, maar het tog sout uit sy silo getap, vermoedelik ná Jannie se laaste opmerkings oor sterker spelers wat ʼn plek in die spel verdien.

“Jannie sê dat hy voel dit is iemand wat sterk is wat verdien om te wen, en in sy mind is dié sterk, glo ek, waarvan hy praat, fisiek sterk. Maar sê byvoorbeeld vir my is dit iemand wat sterk breinkrag het, want ek voel so ʼn persoon verdien om dit te wen,” het Blue tydens die koöperasie-kuier teruggekap.

Anelda was ook gretig om vir Jannie te groet. (Foto: Verskaf)

Jannie het klaarblyklik ook ʼn bietjie te veel gekrap aan sy Groenkloof-spanmaat Anelda Price (24), ʼn finalejaarstudent in maatskaplike werk van Parow-vallei in die Wes-Kaap.

“Hy is bietjie té gemaklik en ʼn macho man, tog skuil hy die heeltyd agter Etienne,” het Anelda aangevoer voordat sy die aand vir hom gestem het.

Blue en Milandie se intense fluisteringe het ʼn benoude Etienne se wenkbroue in aanloop tot die koöperasie-kuier ook laat lig en hom meer bedag gelaat. Daarom sy besluit om nes Milandie sy pekelpennie te speel.

“Groenkloof, gaan dink oor wat vanaand hier gebeur het. Kry julle ritme reg,” was aanbieder Ewan Strydom se boodskap aan die span.

“Hier is een Groenkloof-span, maar baie duidelik twee kampe.”

  • Plaasjapie is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.