Goue oues binnekort in Orlando te sien

Retief Goosen (Foto: Patrick McDermott/Getty Images/AFP)

Tiger Woods is een van tien voormalige no. 1-spelers in die wêreld wat vandeesweek in Orlando in Florida in die jaarlikse PNC-kampioenskap in aksie is.

Die glansryke PNC-toernooi is beperk tot geldspelers wat ʼn Majortitel verower het of die PGA-reeks se gesogte Spelerstoernooi gewen het.

Die 20 genooide sterre ding mee saam met ʼn familielid wat ʼn amateurspeler moet wees en spook sake oor 36 putjies uit in ʼn scramble-formaat waar die spelers die beste bofhou op elke putjie kies en van daar af elkeen hul eie balletjie speel. Retief Goosen en Nick Price sal ook te sien wees.

Woods se speelmaat is natuurlik sy ewe bekende seun, Charlie.

Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat die Woodse by die Ritz Carlton-klub hul gholftalente gaan uitstal.

Tiger het twee weke gelede in die Bahamas sy terugkeer tot die baan gemaak nadat hy in April ʼn enkeloperasie ondergaan het.

Hy het sonder enige ongemak geloop en blyk fiks en gesond genoeg te wees om weer mededingende gholf te speel.

Die vyftienmalige Majorkampioen het met sy terugkeer in die Bahamas gesê hy hoop om aanstaande jaar een toernooi per maand te speel.

Tiger en Charlie word teen wedsyfers van 5/1 deur beroepswedders as die gunstelinge beskou om vandeesweek met die PNC-titel weg te loop.

Hulle het verlede keer agtste geëindig nadat hulle in 2020 sewende en in 2021 tweede klaargemaak het.

“Ek is tevrede met hoe ek in die Bahamas gespeel het ná maande op die kantlyn.

“Ek het veral my bofhoue suiwer en ver geslaan wat my hoop gee vir hierdie week,” het Tiger aan die plaaslike Orlando-media gesê.

Volgens die superster bly dit steeds vir hom ʼn spesiale ervaring om saam met sy seun te kan speel.

“Dit is ʼn wonderlike geskenk dat ek my liefde vir gholf met Charlie kan deel.”

Die wenner van 82 toernooie op die Amerikaanse PGA-reeks bevind hom vandeesweek in die geselskap van nege ander gholfsterre wat voor en ná hom as die spel se beste speler gereken is.

Hulle is Bernhard Langer, Nick Faldo, Tom Lehman, Nick Price, David Duval, Justin Thomas en Vijay Singh onder die mans, asook Annika Sorenstam en Nelly Korda in die vrouegeledere.

Die uitgelese groep van 20 deelnemers het gesamentlik 61 Majortitels agter hul name.

Woods spog met 15, Sorenstam met tien en Faldo en Lee Trevino met ses elk.

Die SA gholfster Retief Goosen, wat met twee Majortitels spog, is ook in die veld en speel saam met sy 20-jarige seun, Leo.

Goosen het die afgelope naweek vir Ernie Els se internasionale span in die Wêreldkampioenebeker-stryd gespeel.

Amerika het die toernooi gewen deur die internasionale span met twee punte te klop nadat Goosen in die pylvak gestruikel het en nie by die laaste putjie van die toernooi ʼn syfer kon aanteken nie.

Hy sal straks die naweek wil vergoed vir sy ontydige dubbele brouhou wat die Kampioenebeker op ʼn skinkbord aan die Yanks besorg het.

Die PNC-skouspel skop Vrydag met ʼn programtoernooi af, waarna die spanne Saterdag en Sondag swaarde sal kruis in hul strewe na die titel.

Die 20 deelnemende spanne is:

  1. Tiger en Charlie Woods
  2. Steve en Izzi Stricker
  3. Vijay en Quass Singh
  4. John en John jr. Daly
  5. Nelly en Petr Korda
  6. Annika en Will Sorenstam
  7. Padraig en Ciaran Harrington
  8. Stewart en Reggie Cink
  9. Justin en Mike Thomas
  10. Lee en Daniel Trevino
  11. Matt en Cameron Kuchar
  12. Bernhard en Jason Langer
  13. David en Brady Duval
  14. Nick en Matthew Faldo
  15. Tom en Sean Lehman
  16. Mark en Shaun O’Meara
  17. Jim en Tanner Furyk
  18. Nick en Greg Price
  19. Justin en Luke Leonard
  20. Retief en Leo Goosen

Bykomende inligting: Orlando Sentinel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.