Higgo en Fox span saam vir vierde plek

(Foto: Higgo Garrick/Instagram)

Dis nie aldag dat ʼn Suid-Afrikaner en ʼn Nieu-Seelander op die gholfbaan saamspan nie, veral nie as die Kiwi se All Black-pa jare gelede die Springbokke op die rugbyveld geteister het nie.

Maar dit het nie in Ryan Fox van Nieu-Seeland en Garrick Higgo van Suid-Afrika se pad gestaan om Sondagaand die gesamentlike vierde posisie in die Zurich Classic of New Orleans-spantoernooi te beklink nie.

Fox se pa, Grant, het in 1986 losskakel vir die Nieu-Seelandse Kavaliers teen die Bokke gespeel en hy was in 1992 in die All Black-span wat die Bokke met 27-24 op Ellispark geklop het.

Die Zurich-toernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, is deur Rory McIlroy van Noord-Ierland en Shane Lowry van Ierland gewen nadat hulle saam met die Amerikaner Chad Ramey en die Fransman Martin Trainer op 263 houe (-25) klaargemaak het.

Fox en Higgo was op 265 houe (-23) net twee houe agter die voorlopers nadat hulle tellings van 63, 72, 65 en 65 in die vier rondes aangeteken het.

McIlroy en Lowry het die uitspeelstryd op die eerste uitspeelputjie beklink nadat Trainer met sy sethou misluk het.

Dit was McIlroy se 25ste oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks en die derde keer dat Lowry kon wen.

* By die Erinvale-buiteklub in Somerset-Wes het die Belg Manon de Roey die Suid-Afrikaanse Ope met vier houe gewen.

De Roey het 72 houe in die vierde ronde aangeteken en op 274 houe (-14) vier houe voor Gabriella Cowley van Engeland en die Aussie Momoka Kobori (278, -10) geëindig.

Suid-Afrika se Nicole Garcia was vierde op 280 (-8) gevolg deur Ines Laklalech van Marokko op 281 (-7).

Ander Suid-Afrikaanse tellings was dié van Casandra Alexander (287), Lora Assad (289), Stacy Lee Bregman (293), Danielle du Toit (295), Tara Griebenow (297) en Lee-Anne Pace (300).

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.