Gedagte vir die dag: Jy is sy spesiaal geweefde mens

Argieffoto (Foto: Matteo Grando/Unsplash)

“Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ʼn nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin.” (Efesiërs 2:4)

Skrifgedeelte
Efesiërs 2:4

Oordenking
Wat ʼn voorreg dat ons Skepper vir elkeen van ons ʼn unieke patroon gebruik het toe Hy ons gemaak het en dat Hy ons volgens daardie spesiale patroon stekie vir stekie aanmekaargeweef het. Daarna het Hy ons met verwagting in hierdie wêreld neergesit sodat ons iets van sy grootheid en liefde teenoor mekaar kan leef.

As ons met soveel sorg gemaak is, waar het dinge dan verkeerd geloop? Wanneer het die perfek gemaakte mens se steke losgetrek? En waarom hang daar nou dikwels net toiings aan ons harte? Omdat die gebrokenheid van hierdie stukkende wêreld ʼn manier het om God se patroonmense uitmekaar te skeur! Ongehoorsaamheid, skuldgevoelens, seerkry, verwerping, bekommernis en duisend ander dinge is alles instrumente in die hand van Satan wat hy inspan om van ons uitgetorringde mense te maak: mense wat skeefgetrek en losgeskeur is en daarom ongelukkig is. Maar, dank Vader, ons hoef nie so te bly nie. Die genade van God weef elkeen van ons weer en weer oor.

Gebed

Here Jesus, neem my losgeskeurde menswees en maak my heeltemal oor. Ja, maak my nuut in my liefde vir U, myself en ander.

  • Hierdie oordenking verskyn in Laat Sy liefde jou lei deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.