Jon Rahm het toe ook ʼn prys

Spanje se Jon Rahm (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Almal het ʼn prys. So ook die Spaanse gholfster Jon Rahm.

Die 29-jarige Rahm het Donderdagaand in ʼn onderhoud met Fox News aangekondig dat hy hom by die omstrede LIV-reeks aangesluit het.

Dit nadat hy die laaste twee jaar herhaaldelik gesê het hy kan nie gekoop word nie en dat hy nooit sy rug op die PGA-reeks sal keer nie.

Rahm se oorlopery na die Saoedi-Arabies gefinansierde reeks kom egter nie as ʼn verrassing nie aangesien daar die laaste maand reeds talle kere berig is dat die wêreld se no. 3-speler besluit het om sy rug op die PGA-reeks te keer.

Die amptelike aankondiging het uiteindelik Donderdagaand gekom ná samesprekinge tussen die PGA- en LIV-reeks.

Die PGA-baas Jay Monaham en die voorsitter van Saoedi-Arabië se openbare beleggingsfonds (PiF), Yasir Al- Rumayyan, het vandeesweek onderhandelinge gevoer oor die samesmelting van die twee reekse.

Ingeligtes sê die samesprekinge het nie goed verloop nie en daarom het die LIV-reeks besluit om die Rahm-aankondiging te doen.

Die LIV-reeks is glo ongelukkig dat die PGA-reeks moontlik ook ander beleggers gaan betrek om die toekoms van die spel te verseker.

Die Fenway-sportgroep wat onder meer die Engelse sokkerspan Liverpool besit, is glo die voorkeurkandidaat om ʼn vennoot van die PGA-reeks te word.

Die PiF wil egter die PGA-reeks se enigste vennoot wees sodat hy ʼn belangrike rolspeler in die spel kan wees.

Gerugte wil dit hê dat LIV ʼn ongelooflike $600 miljoen (sowat R12 miljard) betaal het vir Rahm om by die reeks aan te sluit.

Bronne sê egter die bedrag is nie soveel nie en nader aan $400 miljoen (nagenoeg R8 miljard).

Rahm, ʼn tweemalige Major-kampoen, is die LIV-reeks se grootste en duurste vis nóg wat hulle ingekatrol het.

Met die ontstaan van die reeks twee jaar gelede is Dustin Johnson glo $200 miljoen betaal, met Phil Mickelson wat glo $300 miljoen ontvang het om die PGA-reeks vaarwel te roep.

LIV se bestuurshoof, Greg Norman, het gesê dat Tiger Woods se handtekening ʼn tyd lank ten alle koste gejag is.

Die 15-malige Major-kampioen het glo ʼn aanbod van $700 miljoen van die hand gewys en sy lojaliteit teenoor die PGA-reeks verklaar.

Donderdagaand, minute na die Rahm-aankondiging, het Woods in ʼn verklaring gesê hy is verbind om saam met sy mede-spelerdirekteure die toekoms van die PGA-reeks te verseker.

Hy sal ook alles in sy vermoë doen om elke speler in die organisasie se belange te beskerm, het Woods gesê.

Die PGA-reeks het in ʼn verklaring gesê hy sal voortgaan met sy pogings om die spel te verenig.

Hulle het niks spesifiek oor Rahm se besluit gesê nie.

Talle spelers het ook reeds kommentaar gelewer oor Rahm se oorlopery.

Die Engelsman Justin Rose sê dit is ʼn groot slag vir die PGA-reeks en hy hoop daar is nie nog topspelers wat Rahm gaan volg nie.

Rahm is in gholfkringe as ʼn geldwolf en huigelaar uitgekryt.

In sy oorloop-aankondiging het Rahm gesê hy is gemaklik met sy besluit om sy rug op die PGA-reeks te keer.

“Ek hou van die LIV-reeks en die innovering wat hulle wys. Ek hou ook daarvan dat die reeks in verskillende lande gespeel word,” het Rahm gesê.

Suid-Afrika se Ernie Els het vroeër vandeesweek gesê die PGA- en LIV-reeks moet vinnig ʼn ooreenkoms bereik om die spel te beskerm.

Els, wat die LIV-reeks as sirkus-gholf beskryf het, sê hy glo nie in die LIV-formaat nie en dat die PGA-reeks die beste verhoog is vir die wêreld se topspelers om kragte te meet.

Die sperdatum vir die PGA- en LIV-reeks om ʼn werkbare en aanvaarbare samewerkingsooreenkoms vir die toekoms te vind is 31 Desember.

Woods het verlede week gesê alles moontlik sal gedoen word om die sperdatum te haal sodat daar aanstaande jaar vir die spelers en alle belanghebbendes duidelikheid sal wees oor die toekoms van die spel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.