Laevelder neem voortou in SA ope

Thriston Lawrence (Photo by GABRIEL MONNET / AFP)

Die nuutgekroonde nuweling van die jaar het Donderdag op Blair Atholl die spel van ’n gesoute kampioen opgedis om die voortou te neem ná die eerste ronde van die SA Ope-gholftoernooi.

Lawrence, die 25-jarige boorling van Mbombela wat pas as die DP World-reeks se top-nuweling vir die 2021-’22-seisoen aangewys is, het in ideale speltoestande gedy en die lang en uitdagende Blair Atholl-baan op sy knieë gedwing met ’n puik telling van 64 houe –  agt houe minder as die baansyfer van 72.

Die huidige Europese Meesters-kampioen het stewig begin en in 32 houe gedraai ná vier voëltjies en ’n brouhou by die derde putjie.

Oor die tweede nege het Lawrence egter van rat verwissel en die balletjie al hoe meer akkuraat begin slaan. Dit het gelei tot voëltjies by die tiende, dertiende en veertiende en het sy telling tot -6 geneem.

By die sestiende het Lawrence vir ’n oomblik in die moeilikheid gelyk toe hy sy naderhou links van die setperk getrek en ’n moeilike kaphou hom in die gesig gestaar het.

Maar à la Severiano Ballesteros het die SA gholfster die balletjie ingekap vir ’n voëltjie drie, waarna hy die dag afgesluit het met nog ’n voëltjie by die agttiende ná ’n puik plofhou uit die sandkuil links van die setperk.

“Dit was pret en ek is baie gelukkig. Anders as verlede week het ek vandag goed geset en ’n paar sethoue ingerol,” het Lawrence agterna gesê.

Die voorloper het voorts verklap dat sy pa hom ’n wenk gegee het wat sy spel verbeter het.

“Hy het gesê ek staan te ver van die balletjie af. Ek het dit reggestel en skielik goeie resultate behaal,” het Lawrence verduidelik.

Die Engelsman Ross Fisher en die Sweed Jens Fahrbring moes uithaal om binne trefafstand van Lawrence te bly.

Albei het die dag met tellings van 65 (-7) afgesluit.

Fisher en Fahrbring word op die telbord gevolg deur die Duitser Matthias Schmid, die Skot Scott Jamieson en die Stellenbosse geldspeler JJ Senekal, wat op -6 die vierde plek deel.

Ses spelers, onder wie die Suid-Afrikaners Wilco Nienaber en Luke Brown, deel op -5 die sewende plek.

Schmid is ’n gereelde besoeker aan Suid-Afrika en was gister in sy noppies ná ’n dag wat nie minder nie as drie arende ingesluit het. Twee van die arende was die resultaat van suksesvolle kaphoue.

“Ek het bitter lanklaas ’n balletjie ingekap en daar kry ek dit vandag twee keer reg. Dit was ’n goeie dag op die baan en die speltoestande was absoluut perfek gewees.”

Die 22-jarige Nienaber is die langste slaner in die Europese reeks en die Blair Atholl-baan, wat deur die legendariese Gary Player ontwerp is, behoort hom soos ’n handskoen te pas.

Die Bloemfonteiner het so byna sy dag by die sewentiende putjie bederf toe hy by dié syfer-3-putjie twee plofhoue uit die sandkuil en daarna twee sethoue nodig gehad het om die balletjie in die blikkie te kry nadat hy die setperk gemis het.

Hy het egter dadelik teruggebons met ’n voortreflike arend drie by die agttiende ná ’n puik naderhou wat sowat anderhalf meter vanaf die blikkie geëindig het.

Die Ier Tom McKibbin, een van die spelers wat saam met Nienaber die dag op -5 afgesluit het, sal sy eerste kennismaking met Blair Atholl nie maklik vergeet nie.

Hy het by die elfde ’n volmaakte gelukhou behaal onderweg na ’n stewige 67.

Nie al die groot kanonne in die veld het die heel beste van dae beleef nie.

Die SA sterre Charl Schwartzel (68), Dylan Fritelli (70), Dean Burmester (70), Branden Grace (71) en MJ Daffue (71) is nie uit die wedloop om die gesogte Ope-titel nie, maar sal oor die laaste 54 putjies nie ’n voet verkeerd kan sit nie indien hulle drome van sukses koester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.