LIV-reeks nou ook uitgesaai

(Foto: Warren Little/GETTY IMAGES/AFP)

Die LIV-gholfreeks het Donderdag ’n ooreenkoms met ’n Amerikaanse televisienetwerk gesluit om dié omstrede reeks se onderskeie toernooie voortaan te beeldsend.

Luidens ’n aankondiging op Twitter deur LIV se uitvoerende hoof, Greg Norman, het LIV en The CW-netwerk ’n ooreenkoms vir drie jaar gesluit.

Spel sal Saterdae en Sondae regstreeks op die netwerk gebeeldsend word, met Vrydag se aksie – die eerste dag – wat slegs op die netwerk se app (toepassing) gevolg sal kan word.

The CW-netwerk is verlede jaar deur die Nexstar Media-groep oorgeneem toe hulle 75% van die netwerk bekom het. Die oorblywende aandeelhouding van 25% behoort aan CBS en Warner, wat die stigterslede van die netwerk was.

The CW se brood en botter in die verlede was sepies en hofdramas en hul ooreenkoms met die LIV-gholfreeks is hul eerste tree op die sportveld.

The CW het verlede jaar die 21ste plek op die lys van die netwerke met die grootste kykersgetalle in Amerika beklee.

Volgens Sports Illustrated sal The CW vanjaar en aanstaande jaar geen uitsaairegte aan die LIV-reeks betaal nie, met die situasie wat in 2025 hersien sal word.

Die Amerikaanse PGA-reeks verdien meer as R17 miljard per jaar uit televisieregte.

Die LIV-reeks, wat deur die Saoedi-Arabiese openbare beleggingsfonds gefinansier word, het verlede jaar die lig gesien en meer as R40 miljard is bestee om die nuwe reeks te vestig.

Norman het in die negentigs reeds met die Amerikaanse PGA-reeks gebots toe hy ook probeer het om ’n wegbreekreeks van stapel te stuur.

Sy planne het uiteindelik verlede jaar gestalte gekry toe hy ’n bondgenoot in die Saoedi-Arabiese kroonprins Mohammed bin Salman gekry het.

Norman het verlede jaar met die bekendstelling van die LIV-reeks gesê sy doelwit is om die spel wêreldwyd uit te brei en ’n jonger geslag aanhangers na die spel te lok.

Wel, die Aussie gaan beslis sy hande vol hê om dit te doen. Volgens marknavorsing is die kykers van The CW se gemiddelde ouderdom 58 jaar, wat op die oog af effens ouer blyk te wees as diegene na wie Norman vry.

Intussen word ’n aankondiging binnekort verwag dat die 27-jarige Chileen Mito Perreira hom dié seisoen by die LIV-geledere gaan aansluit.

Perreira het bekendheid verwerf toe hy verlede jaar so byna die Amerikaanse PGA-toernooi op Southern Hills gewen het.

Hy het egter op die laaste putjie van die toernooi vasgeval en twee houe aan syfer afgestaan nadat hy sy bofhou in die water geslaan het. Hy het uiteindelik in die derde plek klaargemaak.

Perreira was verlede jaar ook deel van Trevor Immelman se internasionale span in die Presidentebeker-toernooi, maar hy het bitter ontuis in die groot geselskap gelyk en kon slegs een gelykop uitslag en twee nederlae in drie kragmetings bewerkstellig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.