LIV vang nóg ʼn SA-vis

Dean Burmester van Suid-Afrika tydens die Dubai Desert Classic in 2020. (Foto: GIUSEPPE CACACE / AFP)

Die omstrede LIV-gholfreeks het nog ’n groot Suid-Afrikaanse vis gevang.

Dean Burmester, tweemalige wenner op die Europese DP World-reeks en sewemalige Sonskynreeks-kampioen, gaan glo sy spelerskaart op die Amerikaanse PGA-reeks prysgee en hom by sy landgenoot Louis Oosthuizen se Stingerspan aansluit.

Die Stingerspan se ander twee spelers in die Saoedi-Arabiese gefinansierde reeks, is Charl Schwartzel en Branden Grace.

Die 33-jarige Burmester is op no. 62 tans die voorste Suid-Afrikaanse speler op die wêreldranglys.

Oosthuizen (70), Christiaan Bezuidenhout (77) en Thriston Lawrence (82) is die enigste ander Suid-Afrikaners wat onder die top-100 tel.

Burmester het einde verlede jaar sy spelerskaart vir die gesogte Amerikaanse PGA-reeks verwerf en sedertdien in agt toernooie van die nuwe 2022‑23-seisoen gespeel.

Hy het vierde in sy eerste verskyning op Amerikaanse bodem geëindig en $576 000 (meer as R10 miljoen) in sy kort tydjie in die PGA-reeks verdien.

Luidens berigte in Golf Monthly sal Burmester se aansluiting by die LIV-reeks amptelik Vrydagmiddag in Amerika aangekondig word wanneer die reeks se twaalf deelnemende spanne gefinaliseer word.

Burmester sal nie die enigste nuweling wees wat vanjaar in die LIV-reeks in aksie sal wees nie.

Die 27-jarige Chileen Mito Perreira en die 31-jarige Colombiaan Sebastian Munoz het hulle die afgelope week by Greg Norman se reeks aangesluit.

Perreira het bekendheid verwerf toe hy verlede jaar so byna die Amerikaanse PGA op Southern Hills gewen het. Hy het uiteindelik derde in dié Major-toernooi geëindig.

Die Chileen was verlede jaar ook deel van Trevor Immelman se internasionale span in die Presidentebeker-toernooi.

Munoz spog met een sege op die Amerikaanse PGA-reeks. Hy het in 2019 die Sanderson Farms-kampioenskap gewen, maar daarna nooit werklike groot hoogtes bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.