LIV wil, maar Will wil nie

Will Zalatoris (Foto: Getty Images/AFP)

Nie eens ’n aanbod van ʼn astronomiese $130 miljoen (sowat R2,4 miljard) kon die Amerikaanse gholfster Will Zalatoris oorreed om hom by die geldryke LIV-reeks aan te sluit nie.

Die 26-jarige Zalatoris, tans no. 8 op die wêreldranglys, het volgens die veteraan Fred Couples twee aanbiedinge van die LIV-reeks van die hand gewys om sy rug op die Amerikaanse PGA-reeks te keer.

Die eerste aanbod aan Zalatoris was einde verlede jaar en het $35 miljoen (sowat R650 miljoen) beloop, waarna die tweede aan die begin van die jaar tot ’n ongelooflike $130 miljoen verhoog is toe die LIV-base desperaat was en kwaai gesukkel het om spelers van gehalte na hul Saoedi-Arabiese gefinansierde reeks te lok.

Zalatoris en Couples het dieselfde agent wat na hul belange en borgskappe omsien.

Couples, die Amerikaanse Meesters-kampioen van 1992 en driemalige kaptein van die Amerikaanse Presidentebekerspan, het die aap oor Zalatoris se LIV-aanbiedinge uit die mou gelaat.

Die Orange County Register berig dat Couples gesê het hy het niks teen spelers wat die PGA-reeks vir die groener weivelde van die LIV-reeks verruil het nie.

Maar Couples is knorrig vir die spelers wat die PGA-reeks nou slegsê.

“Hulle is almal groot geld betaal om by LIV aan te sluit en het geweet daar gaan gevolge wees.

“Noudat hul plekke in die major-toernooie in die gedrang is, kla hulle sonder ophou oor alles en sê die PGA-reeks sleg.

“Dit maak my warm onder die kraag. Ek is 42 jaar lank deel van die PGA-reeks en het niks slegs te sê nie.

“Daardie mannetjie wat verlede jaar die Spelers-kampioenskap en Britse Ope gewen het, sê hy kan nou verjaarsdae en troues van familie en vriende bywoon noudat hy in die LIV-reeks speel,” het Couples gesê in verwysing na uitsprake deur die Aussie Cameron Smith, sonder om sy naam te noem.

“Wel, my groot held het vyf kinders en veertig kleinkinders. Sy naam in Jack Nicklaus. En hy het alles van almal bygewoon terwyl hy op die PGA-reeks gespeel het.”

Smith is die LIV-reeks se topspeler en is glo $100 miljoen (sowat R1,8 miljard) betaal om in hul nuwe reeks te speel.

Phil Mickelson ($200 miljoen – sowat R3,6 miljard) en Dustin Johnson ($150 miljoen – sowat R2,7 miljard) het skynbaar die meeste ontvang om van die PGA-reeks weg te stap.

Ander groot LIV-name soos Louis Oosthuizen, Lee Westwood en Bubba Watson is glo tussen $40 miljoen en $50 miljoen (tussen R740 miljoen en R925 miljoen) vir hul handtekeninge betaal.

Zalatoris het volgens kenners al die nodige talent om een van die wêreld se bestes te word, maar kan tans met net een PGA-titel spog sedert hy hom in 2018 by die beroepsgeledere aangesluit het.

Zalatoris se deurbraak-oorwinning was in Augustus verlede jaar toe hy die St. Jude Classic in Memphis gewen het.

Hy kon tot dusver hierdie seisoen nog net een toptien in ses toernooie behaal.

Die tweede van die LIV-reeks se veertien toernooie begin Vrydag by The Gallery-klub in Tucson in Arizona.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.