Louis of Charl: Wie gaan bes gee?

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen op die baan by Leopard Creek. (Foto: Alfred Dunhill Championship/X)

ʼn Hewige reënstorm en gepaardgaande weerlig in die suide van die Kruger-wildtuin het Sondag op die Leopard Creek-baan twee keer die droom-tweestryd tussen Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel in die laaste ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap tot ʼn vroeë einde gebring.

Dié tweetal, wat saam op 201 houe (-15) as die voorlopers afgeslaan het, het net vier putjies in die vierde ronde voltooi toe hulle die eerste keer skuins ná elfuur skuiling in die klubhuis gaan soek het.

Hulle het Sondagmiddag skuins ná vieruur, toe spel hervat is, drie verdere putjies voltooi voordat die sirene weer geloei het en daar besluit is om die dag se spel op te skort.

Nie een van die 68 spelers wat in die laaste ronde afgeslaan het, kon hul rondes voltooi nie en spel word Maandag om 09:00 hervat.

Oosthuizen het twee voëltjies in sy onvoltooide vierde ronde aangeteken, maar hy het ʼn hou op die kort sewende putjie afgestaan nadat hy sy bal in die water geslaan het.

Schwartzel, wat een voëltjie aangeteken het, loop saam met hom op -16 voor om hul titaniese tweestryd op die spits te dryf.

Oosthuizen, wat reeds twee keer tweede was, wil baie graag die toernooi ʼn eerste keer wen, terwyl Schwartzel, wat reeds vier keer gewen het en vier keer tweede was, nie van plan is om sy houvas prys te gee nie.

Christiaan Bezuidenhout van Suid-Afrika was Sondagmiddag op -13 derde, gevolg deur die Engelsman Andy Sullivan en Mattias Schmid van Duitsland saam vierde op -11.

Hulle is gevolg deur nog ʼn Engelsman, Marco Penge, op -10.

* In die Grant Thornton-toernooi vir gemengde spanne wat in Florida in Amerika beslis is, het Jason Day van Australië en Lydia Ko van Nieu-Seeland die toernooi, wat die eerste keer beslis is en deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, met een hou gewen.

Day en Ko het die derde en laaste ronde in 66 houe voltooi en op -26 geëindig.

Hul wentelling was een hou beter as dié van Corey Conners en Brooke Henderson van Kanada (-25), met Ludvig Åberg en Madalene Sandstrom van Swede derde op -24.

Ko het die oorwinning met ʼn voëltjie op die 17de putjie verseker.

Åberg en Sandstrom het in die laaste ronde met 60 houe na vore geskiet. Hul telling het 10 voëltjies en ʼn arend ingesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.