Mans-, vrouegholfspelers dié naweek saam by uitnodigingstoernooi

Tony Finau en Nelly Korda is reg vir die naweek se aksie. (Foto: PGA Golf/X)

Die Amerikaanse PGA-reeks en sy eweknie wat vroueberoepsgholf in Amerika administreer, die LPGA-reeks, vat vandeesweek hande in ʼn gemengde spantoernooi ter bevordering van geslagsgelykheid.

Altesame 16 gemengde spanne sal van Vrydag oor drie dae by die Tiburon-klub in Naples in Florida sake uitspook in die nuwe Grant Thornton-uitnodigingstoernooi.

Die deelnemende spanne sal elke dag in ʼn ander formaat meeding in ʼn poging om die toernooi van enige ander te onderskei. Vrydag se formaat behels dat albei spelers hul bofhoue slaan, waarna die spelers een balletjie kies en om die beurt die putjie voltooi.

Saterdag se tweede ronde is normale beurtspelle en die spelers slaan van meet af die balletjie om die beurt.

Sondag se derde en laaste ronde is ʼn formaat wat bitter min gespeel word. Albei spelers slaan van die bof af, waarna hulle mekaar se balletjies enduit moet speel totdat hulle die blikkie gevind het.

Die Grant Thornton-toernooi is egter nie die eerste gemengde toernooi wat die PGA- en LPGA-reeks aanbied nie. Daar was van 1960 tot 1967 die Haig en Haig Classic en daarna van 1976 tot 1999 die JCPenney Classic wat deur gemengde pare beslis is.

Die laaste JCPenney-kampioene was niemand anders nie as John Daly en Laura Davies, twee van die spel se legendes in die moderne era.

Verskeie hedendaagse sterre wat oor die talent beskik om hul name in die geskiedenisboeke van die spel te verewig, het uitnodigings aanvaar om vandeesweek deel te wees van die terugkeer van gemengde spangholf ná ʼn afwesigheid van meer as twee dekades.

Onder hulle tel die room van vrouegholf met die huidige no. 1-speler in die wêreld, Lilia Vu, wat saam met drie gewese no. 1’s, Nelly Korda, Lydia Ko en Ruoning Yin, in aksie sal wees. Al vier spog ook met majortitels.

Nog vier ander majorkampioene sal ook in aksie wees. Hulle is Lexi Thompson, Celine Boutier, Allisen Corpuz en Brooke Henderson.

Daar is drie majorkampioene onder die genooide manspelers: Justin Rose, Lucas Glover en Jason Day.

Die organiseerders het die onderskeie spanne vir die toernooi saamgestel en daar is ʼn paar interessante kombinasies.

Nelly Korda en Tony Finau sal as van die gunstelinge gereken word. So ook die Britte Charley Hull en Justin Rose, asook die Australasiese paar van Lydia Ko en Jason Day.

Die gevaarlike buiteperde is die Sweedse paar Madelene Sagstrom en Ludwig Aberg en die Yanks Andrea Lee en Billy Horschel, met die glanskombinasie van Thompson en Rickie Fowler wat in staat is tot enigiets.

Die pryspot van die toernooi beloop sowat R80 miljoen, met die wenpaar wat nagenoeg R14 miljoen sal deel.

Die sestien genooide spanne is:

  1. Nelly Korda en Tony Finau
  2. Lexi Thompson en Rickie Fowler
  3. Celine Boutier en Harris English
  4. Madelene Sagstrom en Ludwig Aberg
  5. Allisen Corpuz en Cameron Champ
  6. Leona Maguire en Lucas Glover
  7. Mel Reid en Russell Henley
  8. Cheyenne Knight en Tom Hoge
  9. Brooke Henderson en Corey Connors
  10. Lilia Vu en Joel Dahmen
  11. Lydia Ko en Jason Day
  12. Andrea Lee en Billy Horschel
  13. Megan Khang en Denny McCarthy
  14. Charley Hull en Justin Rose
  15. Ruoning Yin en Nick Taylor
  16. Rose Zhang en Sahith Theegala.
  • Bykomende bron: PGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.