Mauritius-Ope: Bekker lei SA se aanslag

Dean Burmester (Foto: Ben Stansall/ AFP)

Dit kon netsowel ʼn toernooi in die plaaslike Sonskynreeks gewees het, want dit wemel van Suid-Afrikaanse gholfspelers wat dié naweek by die Mont Choisy le Golf-baan in Grand Baie in die Mauritius-Ope speel, wat deel is van die Dubai World Tour (Europese reeks).

Van die 70 spelers wat vir die laaste twee rondes gekwalifiseer het, is daar 28 Suid-Afrikaners, terwyl 43 ander nie die afsnypunt kon haal nie.

Dit sluit bekende name in soos Dean Burmester (dis ironies sy tuisbaan), Hennie Otto, Tristen Strydom en Jbé Kruger.

Die pas word deur drie buitelanders, die Fransman Antoine Rozner, die Fin Sami Välimäki en die Spanjaard Alfredo Garcia-Heredia aangegee, wat saam op 134 houe (-10) geëindig het.

Hulle word gevolg deur Suid-Afrika se Oliver Bekker (135, -9), met die jong Casey Jarvis op 136 (-8), JC Ritchie (138) en Jayden Schaper en Dylan Mostert albei saam op 140.

Ockie Strydom, wat verlede week die Alfred Dunhill-toernooi by Leopard Creek buite Malelane gewen het, is in die 26ste posisie nadat hy tellings van 69 en 73 op sy telkaart ingevul het.

Strydom, wat steeds op ʼn droomwolk sweef ná sy oorwinning verlede Sondag reg langs die Krugerwildtuin, het grappenderwys aan die Sonskynreeks se webwerf gesê dat hy ʼn “voorskrif” van ʼn aptekersvriend gekry het wat gelui het: “Neem Johnnie Walker elk ses uur daagliks. Herhaal vir ʼn week…”

Bekker het 64 houe in die eerste ronde aangeteken wat agt voëltjies ingesluit het, en het in Vrydag se tweede ronde nog vier voëltjies aangeteken. Waar hy in Donderdag se eerste ronde nie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het nie, het hy egter Vrydag by drie putjies verbrou.

Die 19-jarige Jarvis was kookwater en het tellings van 69 en 67 in sy eerste twee rondes aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.