McIIroy nou beste ter wêreld

Rory McIlroy. Foto: CNN

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die beste gholfspeler op aarde?

Te midde van nog ʼn hofsaak tussen die strydende Amerikaanse PGA- en LIV-reeks, kan die Noord-Ierse gholfster Rory McIlroy weer eens spog met die titel as die wêreld se no. 1-speler.

McIlroy, die gesig van die PGA-reeks en die grootste kritici van die omstrede Saoedi-Arabies gefinansierde reeks, het Sondag soos verlede jaar die gesogte CJ-beker syne gemaak deur Kurt Kitayama by die Congaree-klub in Ridgeland in Suid-Carolina met ’n enkele hou te troef.

Met dié oorwinning, sy 23ste in die PGA-reeks, het McIlroy genoeg punte verdien om weer die eerste posisie op die amptelike wêreldranglys in te neem wanneer dit soos gebruiklik Maandag aangepas en ná verifikasie weer uitgereik word.

’n Aangedane McIlroy het kort ná sy oorwinning gesê hy voel geëerd om weer die wêreld se topspeler te wees in ’n tydperk waarin die sport dreig om te skeur weens die totstandkoming van die LIV-reeks.

McIlroy sal die plek neem van die Yank Scottie Scheffler, wie se naam vir 30 weke sedert Maart vanjaar bo-aan die ranglys was.

Sondag se sege was McIlroy se tweede in sy laaste vyf verskynings nadat hy einde Augustus die FedEx-beker verower het met sy oorwinning in die Toer-kampioenskap in Atlanta in Georgia.

In die ander drie toernooie in die Europese reeks het hy twee keer vierde en een keer tweede geëindig, wat sy voortreflike en bestendige spel die laaste twee maande onderstreep.

Dit sal McIlroy se 107de week in die no. 1-posisie op die ranglys wees nadat hy in Julie 2020 deur die Spanjaard Jon Rahm van die troon gestoot is.

Slegs die Amerikaner Dustin Johnson (135), die Aussie Greg Norman (331) en die superster Tiger Woods (683) was meer weke in die topposisie.

Norman is die baasbrein agter die omstrede LIV-reeks en Johnson, wat 26ste op verlede week se wêreldranglys was, is een van die groot visse wat deur die Wit Haai ingekatrol is om in die nuwe geldryke gholfreeks mee te ding.

Die LIV-reeks is die laaste weke in ’n hewige woordestryd gewikkel met gholfbase van regoor die wêreld omdat LIV-spelers nie tans vir wêreldranglyspunte kwalifiseer nie.

Hulle het reeds twee keer aansoek gedoen.

Albei aansoeke word nog oorweeg en alle aanduidings is dat dit nog maande gaan neem. Tyd en wyl sak die reeks se spelers weekliks terug op die ranglys en verloor hulle hul posisies onder die top-50, wat regstreekse deelname aan die jaar se vier Major-toernooie verseker.

Norman en sy LIV-troepe het boonop die afgelope naweek nog ’n kopseer bygekry nadat die Amerikaanse PGA-reeks regstappe gedoen het teen die finansierder van die reeks, die Saoedi-Arabiese openbare beleggingsfonds.

Dié fonds se goewerneur, Yasir Al-Rumayyan, is ook gedagvaar om in ’n New Yorkse federale hof te verskyn.

Die PGA-reeks wil hê sekere inligting rondom onderhandelinge met spelers om hulle by die LIV-reeks aan te sluit, asook sekere inligting wat in die LIV-spelers se kontrakte vervat is, moet aan hulle oorhandig word.

Volgens die PGA-reeks het die LIV-reeks aanvanklik ingestem om al die inligting wat versoek is, aan hulle te oorhandig.

Regsverteenwoordigers van die LIV-reeks weier egter nou om dit te doen en voer aan “die LIV-reeks is nie ’n Amerikaanse burger wat gehoor hoef te gee aan die betrokke versoeke van die PGA-reeks nie”.

Intussen spook die LIV-reeks steeds agter die skerms om Amerikaanse televisienetwerke te oorreed om hul toernooie te beeldsend.

Die netwerke het glo die laaste maande reeds verskeie kere die een na die ander nee gesê om enigiets van die LIV-reeks te beeldsend.

Norman het glo daarna die hulp van Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, ingeroep om Fox Sports se arm te draai. Dié netwerk word deur die Aussie miljardêr Rupert Murdoch beheer.

Onderhandelinge word glo nou gevoer waarvolgens die LIV-reeks reusebedrae aan Fox Sports sal betaal om aanstaande jaar se toernooie uit te saai.

Netwerke betaal egter gewoonlik astronomiese bedrae om die uitsaairegte van groot sportgebeurtenisse te bekom.

Die Amerikaanse PGA-reeks se wêreldwye TV-verdienste beloop meer as $1 miljard (sowat R18 miljard) per jaar en die gesogte reeks se huidige kontrakte met die verskillende netwerke wat betrokke is, strek tot einde 2030.

Die laaste LIV-toernooi van die jaar word vandeesweek in Miami gespeel.

Die 48 deelnemende spelers sal van Vrydag tot Sondag in spanne van vier spelers elk sake uitspook om die naasrykste gholfpryspot nóg van $50 miljoen (sowat R900 miljoen).

Elke lid van die wenspan sal $4 miljoen (sowat R72 miljoen) in sy sak steek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.