Nuwe draaiboek vir Amerikaanse Ope

Die Noord-Ier, Rory McIlroy. (Foto: Mike Ehrmann / AFP)

Die wolk van onsekerheid wat oor die Amerikaanse Ope-gholftoernooi gehang het vanweë die LIV-rebellereeks wat al hoe meer spelers wegrokkel, het Vrydag by Brookline in Massachusetts weggewaai toe vier van die wêreld se sewe topspelers ʼn nuwe draaiboek geskryf het.

Die organiseerders van die 122ste Amerikaanse Ope kon nie vir beter gevra het nie: Collin Morikawa, wat na sy derde oorwinning in ʼn Major-toernooi in slegs sy 11de probeerslag mik, loop saam met sy Amerikaanse landgenoot Joel Dahmen op 135 houe (-5) met een hou voor.

Kort op hul hakke op 136 (-4) volg Rory McIlroy, die Noord-Ier wat verlede week die Kanadese Ope in Montreal gewen het. McIlroy het die afgelope paar dae omtrent die spreekbuis vir wêreldgholf geword met sy teenkanting teen die LIV-reeks. Dié toernooi word deur owerhede in Saoedi-Arabië gefinansier, oor 54 putjies beslis en het geen afsnypunt nie. Al die spelers ontvang boonop enorme prysgeld.

Saam met McIlroy is verlede jaar se Amerikaanse Ope-kampioen, die Spanjaard Jon Rahm, saam met die wêreld se voorste speler op die huidige wêreldranglys, Scottie Scheffler, op 137 houe (-3) binne trefafstand.

Sake het nie so voorspoedig vir die Suid-Afrikaners verloop nie met Branden Grace (145), Louis Oosthuizen (146), Shaun Norris (148) en Erik van Rooyen (150) wat nie die valbyl kon vryspring nie.

Daar was darem een pakkie springmielies vir die Suid-Afrikaanse ondersteuners toe die onbesonge Matthys Daffue (139, -1) vir die laaste twee rondes gekwalifiseer het.

Daffue, wat Vrydagoggend vroeg afgeslaan het, was in ʼn stadium voor, maar het sy telkaart effe bederf toe hy 72 houe, gelyk aan baansyfer, aangeteken het.

Matthys wie?

Volgens golfmonthly.com is Daffue 33 jaar gelede in Pretoria gebore, maar woon in Texas saam met sy vrou, Kamila, en sy seun Oliver.

Sy groot held is Retief Goosen, saam met wie hy as 11-jarige ʼn ronde gespeel het en die gholfgogga toe gebyt het.

Hy het sy universiteitsopleding aan die Lee- en Lamar-universiteit in Texas voltooi en het in 2012 ʼn beroepspeler geword.

Hy het reeds in vyf toernooie onder die toptien geëindig, maar kon nog nie wen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.