Nuwe Mauritius-baan gaan topgholfspelers toets

Suid-Afrikaanse gholf-ster Louis Oosthuizen het die La Réserve-baan saam met die bekende Peter Matkovich ontwerp. (Foto: Sunshine Tour/X)

Verlede week was dit die Krugerwildtuin met sy magiese diereryk wat die deelnemers betower het. Vandeesweek is dit die beurt van die Indiese Oseaan wat met sy potblou water mense in vervoering gaan laat.

Ja, dis weer tyd vir die Mauritius Ope-toernooi en dié keer sal die 156 deelnemers wéér op ʼn nuwe gholfbaan sake uitspook.

Die pas voltooide La Réserve Golf Links wat deel is van die Heritage-klub op die Bel Ombre-landgoed in die suidweste van Mauritius, is vandeesweek se gasheer en beloof om ʼn bitter strawwe uitdaging aan die spelers te bied.

Een speler wat presies weet hoe taai hierdie uitdaging gaan wees, is niemand anders nie as Louis Oosthuizen. Die Suid-Afrikaner wat drie dae gelede op Leopard Creek buite Malelane as die Alfred Dunhill-kampioen gekroon is, het die nuwe La Réserve-baan saam met die bekende Peter Matkovich ontwerp. Niemand sal dus beter as Oosthuizen weet waar die baan se slaggate is en wat die beste manier is om die baan aan te durf nie.

Oosthuizen moet gevolglik die groot gunsteling wees om die titel Sondag syne te maak en ʼn tweede agtereenvolgende oorwinning op die DP World-reeks te beklink. Indien Oosthuizen dit sou regkry om boaan die voorlopersbord te eindig, sal dit ʼn haas ongelooflike vierde agtereenvolgende Europese kroon vir ʼn LIV-speler wees.

Oosthuizen se LIV-spanmaat Dean Burmester het voor hom oorwinnings in die Joburg- en SA Ope behaal.

Burmester speel ongelukkig nie vandeesweek in Mauritius nie en só ook nie Charl Schwartzel of Branden Grace nie. Hulle was aanvanklik almal ingeskryf om op die eilandparadys hul talente uit te stal, maar het onttrek.

Afgesien van Oosthuizen is daar nog een ander deelnemer wat vertroud is met die La Réserve-uitleg.

Die Duitser Marcel Siem het die eiland aan die begin van die jaar sy tuiste gemaak en sê hy het die skep van die baan met sy eie oë gevolg.

“Ek het dit dopgehou van die oomblik dat daar niks gras was nie tot nou dat dit voltooi is en lyk of dit al jare hier is. Dis ʼn bitter moeilike baan wat kwaai deur die wind beïnvloed word.

“Daar is egter talle opsies oor hoe om die baan aan te durf, maar een ding is gewis en dit is dat die spelers se bofhoue van kardinale belang gaan wees om in die spel te bly,” het Siem gesê oor wat op die deelnemers wag.

Die Duitser het vanjaar weer die wenkampie vir die eerste keer in sewe seisoene gesien. Hy is egter oorgehaal vir ʼn oorwinning om die jaar op ʼn hoogtepunt af te sluit.

“Die ondersteuning wat ek in Mauritius geniet, is ongelooflik. Die mense het ʼn Whatsapp-groep gestig om my te ondersteun en al wat leef en beef moedig my aan. Ek is oorbluf deur al die ondersteuning,” sê Siem.

Oosthuizen het dalk nie soveel aanhangers hier soos Siem nie, maar sy vrou en kinders en ʼn paar ander familielede het hom in Mauritius ingewag om ʼn glasie vonkelwyn op sy Leopard Creek-oorwinning te klink.

Hulle het almal vroeër as Oosthuizen na Mauritius gereis nadat die gholfster Maandag nog in Malelane sy Alfred Dunhill-sege moes verseker omdat hewige reën en donderstorms Sondag meegebring het dat die toernooi eers die volgende dag voltooi kon word.

Miskien kan hulle Sondag langs hom staan as hy die wennerstrofee dalk net omhoog lig?

Oosthuizen en Siem sal egter met talle gerekende SA en Europese sterre moet afreken. Verlede jaar se kampioen, Antoine Rozzner, is terug om sy titel te verdedig, terwyl nog ʼn gewese wenner, Dylan Frittelli, sy prestasie van 2017 sal wil herhaal toe hy as kampioen gekroon is.

Enkele ander topspelers wat ook wendrome sal koester, is Jayden Schaper, Casey Jarvis, Bradon Stone, Darren Fichardt, Louis de Jager, Hennie Otto, Wilco Nienaber, Matthew Southgate, Renato Paratore, Alexander Levy en Guido Migliozzi.

Almal van hulle weet wat dit verg om ʼn toernooi-oorwinning te behaal.

Die totale pryspot van die toernooi beloop nagenoeg R24 miljoen met die wenner wat meer as R4 miljoen in sy sak sal steek.

Die eerste spelers slaan Donderdag om 06:10 af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.