Oorwinning vir Taylor Pendrith in Texas

Die Kanadees Taylor Pendrith het as wenner in McKinney, Texas, weggestap. (Foto: Tim Heitman/Getty Images/AFP)

Die Kanadees Taylor Pendrith het Sondagaand in McKinney, Texas, as wenner weggestap nadat hy ʼn flater van Ben Kohles behoorlik uitgebuit het.

Pendrith het die CJ Cup Byron Nelson-toernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, met een hou gewen nadat Kohles op die laaste putjie die kluts kwytgeraak het.

Kohles het twee voëltjies op die 16de en 17de putjies aangeteken om Pendrith verby te steek, maar toe ʼn hou aan baansyfer op die 18de putjie afgestaan wat die deur vir Pendrith oopgeswaai het.

Die 32-jarige Pendrith het ʼn voëltjie aangeteken en het op 261 houe, 23 onder baansyfer, geëindig.

Dit was sy eerste oorwinning in die reeks nadat hy reeds in 74 toernooie afgeslaan het.

Kohles het 66 houe in die laaste ronde aangeteken en op 262 houe (-22) klaargemaak. Dit sou ook sy eerste oorwinning in die reeks gewees het.

Die Sweed Alex Noren, wat ook op soek na sy eerste sege in die reeks was, was derde op 263 (-21).

Vier spelers, Matt Wallace en Aaron Rai (albei van Engeland) en Byeong-Hun Am en Seong-hyeon Kim (albei van Suid-Korea) was saam vierde op 264 (-20).

* In die plaaslike Sonskynreeks se Waterfall City-toernooi wat by Royal Johannesburg & Kensington gespeel is, het Louis Albertse met sewe houe gewen en die prysgeld van R1 miljoen vir die eerste plek in sy sak gesteek.

Albertse het die laaste ronde, waar van die land se voorste mans- en vrouespelers om dieselfde prysgeld meegeding het, in 64 houe voltooi.

Hy het op 265 houe (-23) geëindig.

Casandra Alexander en die Wallieser Rhys Enoch was saam tweede op 272 (-16) nadat albei 68 houe in die vierde ronde aangeteken het.

Hulle het albei R210 000 verdien.

Rupert Kaminski was vierde (274, -14) met Gerhard Pepler en Kyle Barker saam vyfde op 275 (-13). Die jong Altin van der Merwe was die voorste amateur op 280 (-8).

  • Bronne: The Golf Channel, The Guardian, Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.