PGA praat met ander beleggers

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Indrukwekkende groep beleggers staan gereed om die Amerikaanse PGA-gholfreeks te red, sou sy onderhandelinge met die LIV-reeks skipbreuk ly.

Die PGA-reeks se kommissaris, Jay Monaham, het gisteraand in ʼn memorandum aan die reeks se spelers gesê die organisasie gaan formele onderhandelinge voer met die Strategic Sports Group, wat bereid is om miljarde dollars in die PGA-reeks te belê.

Die Strategic Sports Group bestaan uit verskeie invloedryke individue en maatskappye wat in sportbeleggings spesialiseer.

Enkele van die bekendes is John Henry, die meerderheidsaandeelhouer in die Engelse sokkerklub Liverpool en die Boston Red Sox-bofbalspan, en Tom Ricketts, die eienaar van die Chicago Cubs-bofbalspan.

Die miljardêr Tom Werner, ʼn Liverpool-aandeelhouer, en die Fenway Sports Group, wat ook aandeelhouers in Liverpool is, tel ook onder die Strategic Sports Group-lede.

Die Fenway Sports Group is reeds by gholf betrokke deurdat hulle saam met Rory McIlroy die Boston Common Golf-span besit wat in die Ier en Tiger Woods se virtuele TGL-liga gaan meeding wanneer dit van stapel gestuur word.

In die memorandum wat Sondag laataand aan die PGA-spelers gestuur is, sê Monaham onderhandelinge met Saoedi-Arabië se openbare beleggingsfonds (PIF) duur voort en dat ʼn ooreenkoms hopelik gou bereik gaan word.

Monaham en Yasir Al-Rumayyan, voorsitter van die PIF, is veronderstel om vandeesweek weer byeen te kom om verdere samesprekinge te voer oor ʼn moontlike samesmelting van die twee strydende reekse.

Die stand van die verhoudinge tussen die PGA- en LIV-reeks is egter onduidelik nadat die omstrede PIF-gefinansierde reeks verlede week die Spanjaard Jon Rahm van die PGA-reeks afgerokkel het.

Ingeligtes sê die PIF het Rahm weggerokkel omdat lede ongelukkig is dat die PGA-reeks met ander moontlike beleggers onderhandel.

Deur die Amerikaanse Meesterskampioen se dienste te bekom, het die PIF aan die PGA-reeks gewys hy kan byna enigiemand koop en dat die LIV-reeks nie gaan verdwyn as die PGA-reeks hom ignoreer nie.

Die PGA-base is glo siedend dat die LIV-reeks vir Rahm gekoop het. Hulle glo dit is gedoen as ʼn waarskuwing dat hulle die spel verder sal ontwrig as hulle nie suksesvol is nie in hul strewe om deel te word van die spel se mees gesogte reeks.

Volgens die voorlopige vredesooreenkoms wat in Junie tussen die PGA- en LIV-reeks aangegaan is, sal die PIF miljarde dollars in die PGA-reeks inpomp om die voortbestaan van die reeks te verseker, asook om die spel wêreldwyd te laat groei.

ʼn Nuwe maatskappy sal ingevolge die ooreenkoms die spel in die toekoms administreer, met die PGA-reeks en die PIF wat die aandeelhouers in die nuwe onderneming sal wees.

Al-Rumayyan is geoormerk as die voorsitter van die nuwe gholforganisasie, terwyl Monaham as die bestuurshoof sake van dag tot dag sou bedryf het.

ʼn Groot getal PGA-lede is egter gekant daarteen om ʼn vennootskap met die PIF aan te gaan en verkies glo om eerder hande te vat met ander beleggers.

Volgens Monaham het die PGA-reeks dringend ʼn finansiële inspuiting nodig om die groter pryspotte vir sekere toernooie te kan handhaaf.

Die groter pryspotte is die direkte gevolg van die ontstaan van die LIV-reeks, maar plaas geweldige finansiële druk op die PGA-reeks met die organisasie se reserwefondse wat getap moet word om dit te kan bekostig.

Eindelik het die PGA-spelers die finale sê oor enige besluit wat geneem sal word oor die PGA-reeks se planne en moontlike toekomstige vennote.

  • Bykomende inligting: PGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.