Rose breek wendroogte op Pebble Beach

Brittanje se Justin Rose in aksie by die Hero World Challenge by Albany Golf Club in Nassau, Bahamas (2 Desember 2018). Foto: Dante Carrer/AFP

Die Suid-Afrikaner van geboorte, Justin Rose, het Maandag ’n wendroogte van vier jaar verbreek toe hy in die AT&T Pro-am-toernooi op Pebble Beach geseëvier het.

Die 42-jarige boorling van Johannesburg en Olimpiese kampioen van 2016 het die glansryke Pebble Beach-titel met drie houe verower nadat hy die vierde ronde in ’n puik 66 – ses houe minder as die baansyfer – voltooi het om op ’n totaal van 269 – 18 minder as syfer – boaan die voorlopersbord te eindig.

Die Amerikaners Brendon Todd (65) en Brandon Wu (66) het op 272 die tweede plek gedeel.

Die AT&T-toernooi is die eerste drie dae erg deur gure weersomstandighede ontwrig en die spelers kon nie Sondag klaarmaak nie. Rose en sy speelmaats moes Maandag na die Kaliforniese spogbaan terugkeer om hul laaste nege putjies te voltooi.

Rose se laaste sege in die Amerikaanse PGA-reeks was in Januarie 2019 toe hy die Farmers Insurance-titel opgeraap het.

Die Amerikaanse Ope-kampioen van 2013 was in 2018 vir ’n kort rukkie die wêreld se nr. 1-speler nadat hy die gesogte FedEx-beker verower het.

“Ek kan nie glo hoe die tyd gevlieg het nie. Ja, dit was ’n lang vier jaar sedert my laaste oorwinning, maar hopelik is ek nou weer terug op die wenpad.

“Ek het verlede jaar erg gesukkel en daarna besluit om hierdie jaar van voor af te begin en my opnuut op die spel toe te spits in ’n poging om weer my beste spelpeil te bereik.

“Ek is verheug ek kon gou weer sukses behaal en nou is die Ryderbeker-toernooi my volgende doelwit,” het Rose ná sy sege gesê.

Die Britse burger was jare lank een van die Europese span se groot steunpilare in die tweejaarlikse Ryderbeker-kragmeting met Europa.

Hy het 2021 se toernooi misgeloop nadat hy nie gekies is nie omdat hy van stryk af was, maar in sy vyf verskynings vanaf 2008 tot 2018 het hy ’n waardevolle 14 punte vir die Europese span ingesamel en was hy drie keer deel van die wenspan.

Rose se eerste twee toernooi-oorwinnings as ’n geldspeler was albei in Suid-Afrika gewees. Hy het in 2002 eers die Dunhill-kampioenskap op Houghton gewen, waarna hy twee weke later by die Wildekus die Nashua Meesters-titel agter sy naam geskryf het.

Gholfliefhebbers sal bly wees dat Rose se dae in die woestyn iets van die verlede blyk te wees.

Hy spog met 25 toernooi-oorwinnings oor die hele wêreld heen en het in sy loopbaan net minder as $60 miljoen (meer as R1 miljard) in Amerika en sowat R520 miljoen in die Europese reeks gewen.

Die Suid-Afrikaners Garrick Higgo (-8) en Dean Burmester (-4) het onderskeidelik gesamentlik 20ste en gesamentlik 41ste geëindig nadat albei die laaste ronde in 68 houe voltooi het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.