Singapoer-Classic: Strydom vat weer voor

Ockie Strydom (Februarie 2023) (Foto: Roslan Rahman/AFP)

Suid-Afrika se Ockie Strydom se drome om sy eerste gholftoernooi te wen, het verlede jaar in Desember waar geword toe hy die Alfred Dunhill-kampioenskap gewen het.

Hy het Sondag in Singapoer daarop voortgebou toe hy die Singapore Classic, wat deel is van die DP World Tour, met een hou gewen het nadat hy 63 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Die 38-jarige Strydom het op 269 houe (-19) geëindig, wat een hou beter was as dié van Sami Valimaki van Finland (270, -18) en het meer as R6 miljoen met sy oorwinning verdien.

Strydom was Sondagoggend nog met vier houe agter toe hy in die laaste ronde afgeslaan het. Hy het nege voëltjies aangeteken en die voorlopers, Jeunghun Wang van Korea en die Spanjaard Alejandro Del Ray gou ingehaal.

Dit het op ʼn tweestryd tussen Strydom en Valimaki uitgeloop.

Valimaki moes ʼn arend op die laaste putjie aanteken om ʼn uitspeelstryd af te dwing, maar hy kon net baansyfer aanteken om die titel aan Strydom te besorg.

Volgens Strydom het sy positiewe ingesteldheid ná sy sege in die Dunhill-toernooi baie tot sy sege bygedra.

TeamTalk media berig dat sy afrigter asook sy vrou, wat saam met hom in Singapoer was, hom verder aangespoor het.

Die Duitser Marcel Schneider was saam met Jeunghun en Del Rey derde op 273.

Zander Lombard van Suid-Afrika het op 274 houe geëindig nadat hy 66 houe in die vierde ronde aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.