Sonskynreeks goed vir Da Silva

Adilson da Silva. (Foto: Sunshine Senior Tour/Twitter)

Die Brasiliaan Adilson da Silva het sy een hand op die trofee in die Nelson Mandelabaai Classic-gholftoernooi op Humewood in Gqeberha.

Die 51-jarige Da Silva, wat Suid-Afrika dekades gelede al sy tuiste gemaak het, maar nooit sy Brasiliaanse burgerskap prysgegee het nie, geniet ná twee rondes ʼn voorsprong van vyf houe in sy debuutverskyning in die Sonskynreeks vir seniors.

Da Silva gee op ʼn totaal van 132 (-12) die pas aan ná ʼn puik 63 Woensdag oor die eerste 18 putjies en ʼn stewige 69 in Donderdag se tweede ronde. Die toernooi eindig vandag.

Die voorloper word gejaag deur Keith Horne op -7 (70 en 67), met verlede jaar se kampioen, Doug McGuigan, op -5 (68 en 71) en Chris Williams op -3 (68 en 73) die volgende name boaan die voorlopersbord.

Die Humewood-toernooi het vandeesweek op ʼn effense somber noot afgeskop met nuus oor die dood van John Bland, die geliefde SA gholfster van Benoni wat in die vroeë 90’s na die Suid-Kaap verhuis het.

Die 77-jarige Bland, wat op Heroldsbaai en Belvidere buite Knysna gewoon het voordat hy na Fancourt verhuis het, is Dinsdag in George ná ʼn moeilike stryd teen kanker dood.

Die spelers in die Humewood-veld het so te sê almal in die 80’s en 90’s op plaaslike bodem met Bland meegeding en vir baie van hulle was dié wenner van 19 Sonskynreeks-titels en 36 toernooie wêreldwyd ʼn vaderfiguur en rolmodel.

*In Frankryk is Suid-Afrika se Lee-Anne Pace op 71 houe ses houe agter Anne van Dam van Nederland ná die eerste ronde van die Jabra Ope.

Pace het ʼn wisselvallige dag op die skoonvelde van die Evian-gholfoord beleef en vier voëltjies aangeteken, maar ook vier brouhoue op haar telkaart ingevul.

Nog ʼn Suid-Afrikaanse speler, Stacy Lee Bregman, wat verlede week by die Standard Bank Ope by die Royal Johannesburg & Kensington-klub in Linksfield aangesluit het, se Europese veldtog het op ʼn suur noot begin nadat sy ʼn telling van 74 (+3) op haar telkaart ingevul het.

*In Antwerpen in België in die Soudal Ope in die DP World-reeks is Brandon Stone en Wilco Nienaber op 68 (-3) die beste geplaas van die SA deelnemers in die veld.

Die voorloper ná die eerste ronde is die Sweed Simon Forsstrom, wat ʼn voortreflike telling van 64 (-7) aangeteken het.

Afgesien van Stone en Nienaber het Hennie du Plessis en Justin Walters (albei 69) ook redelik stewig weggespring in hul strewe na sukses in die Europese reeks.

*In McKinney in Texas het Seung-yul Noh van Suid-Korea briljante spel in die eerste ronde van die AT&T Byron Nelson-toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks opgedis deur ʼn telling van 60 (-11) aan te teken.

Noh het nege voëltjies en ʼn arend behaal om ʼn voorsprong van drie houe op die Aussie Adam Scott op te bou.

Die Suid-Afrikaners Christiaan Bezuidenhout (-3) en Dylan Fritelli (-1) het albei beter as die baansyfer van 71 gespeel, maar sal moet uithaal om Noh in te haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.