Spanne vir Ryder-, Solheimbeker aangewys

Die VSA se Brooks Koepka. (Foto: Andrew Reddington/Getty Images/AFP)

Die LIV-gholfster en vyfmalige majorkampioen Brooks Koepka het die regte temperament om onder druk te presteer. Maar die groot rede waarom Koepka die jawoord vir Amerika se Ryderbekerspan gekry het, was omdat die res van die span hom as hul spanmaat wou hê.

“Hy het ʼn ongekende passie vir die Ryderbeker en is ʼn goeie spanspeler, wat in die kleedkamer en tussen die toue op die baan die res van die spelers aanvuur.

“Koepka se ondervinding is goud werd en hy het die regte temperament om te presteer wanneer hy onder druk is.

“Dit was ʼn maklike besluit om hom te kies. Al die spelers wou hom as hul spanmaat gehad het,” het die Yanks se kaptein, Zach Johnson, Dinsdag tydens die Amerikaners se spanaankondiging gesê.

Koepka is die enigste LIV-speler wat die span gehaal het en sy insluiting was tot aan die einde in die weegskaal deurdat die LIV-rebelle deur die Amerikaanse PGA-reeks geskors is.

Die Ryderbekertoernooi word egter deur die Amerikaanse Beroepspelersvereniging aangebied in oorleg met die DP World-reeks.

Gevolglik kon LIV-spelers vir die Amerikaanse span oorweeg word.

Vanjaar se Ryderbekertoernooi word van 29 September tot 1 Oktober by die Marco Simone-klub in Rome in Italië beslis.

Europa se kaptein, Luke Donald, het nog sowat ʼn week kans om te dink voordat hy op 4 September sy twaalftal vir die gesogte tweejaarlikse spantoernooi bekend sal maak.

Die Amerikaanse span is die verdedigende kampioen, maar die Yanks het 30 jaar laas op Europese bodem geseëvier.

Johnson het ses kapteinskeuses gehad nadat ses spelers regstreeks op grond van ʼn puntelys gekwalifiseer het.

Die sestal wat outomaties op grond van hul vertonings die afgelope 18 maande op die baan gekwalifiseer het, is Scottie Scheffler, Wyndham Clark, Brian Harman, Patrick Cantlay, Max Homa en Xander Schauffele.

Die vyf ander spelers wat saam met Koepka deur Johnson nadergetrek is, is Justin Thomas, Jordan Spieth, Ricky Fowler, Collin Morikawa en Sam Burns.

Thomas se insluiting was in die weegskaal deurdat die dubbele majorkampioen vanjaar sy vrotste seisoen nóg op die gholfbaan beleef het.

Thomas en Spieth se Ryderbeker-vertoningslyste as ʼn span is egter indrukwekkend en het ’n rol gespeel in albei se insluitings.

“JT [Thomas] is een van die talentvolste spelers van die spel. Hy is ook een van die span se leiers en sy en Jordan se vertonings saam as ʼn span is voortreflik.

“Hulle presteer wanneer dit saak maak,” het Johnson oor Thomas en Spieth se insluiting gesê.

Twee spelers wat ongelukkig sal voel omdat hulle nie die groen lig gekry het nie, is verlede jaar se nuweling van die jaar, Cameron Young, en Lucas Glover wat twee van die drie FedExbeker-uitspeeltoernooie gewen het.

Maar dan, daar is net plek vir 12 spelers in elke span, daar sal dus altyd ongelukkiges wees wat dit net-net nie maak nie.

Amerika mik weer vir Solheimbeker

Amerika het vyf nuwelinge, onder wie twee nuwe majorgholfkampioene, gekies om aanstaande maand die Solheimbeker die eerste keer in ses jaar te probeer inpalm.

Die Yanks se kaptein, Stacy Lewis, het vandeesweek haar drie kapteinskeuses bekendgemaak en dit was geen verrassing nie toe sy die name van Ally Ewing, Cheyenne Knight en Angel Yin uitgelees het.

Die drietal het net-net regstreekse kwalifikasie misgeloop, maar Lewis het hul goeie spel deur die jaar beloon met die groen lig vir hul deelname in Spanje.

Vanjaar se Solheimbekerstryd, die eweknie van die mans se Ryderbeker, word van 22 tot 24 Augustus by die Finca Cortesin-klub in Andalusië beslis.

Die Europeërs is die verdedigende kampioene nadat hulle in 2021 met 15 – 13 in Toledo in Ohio met die Yanks afgereken het.

Dié verrassende sege het gevolg op Europa se naelbytoorwinning van 14,5 – 13,5 in 2019 op Gleneagles in Skotland.

Dit is Ewing en Yin se derde verskynings in die gesogte tweejaarlikse Solheimbekertoernooi.

Knight is egter ʼn nuweling in die Amerikaanse span en sal saam met Andrea Lee en Rose Zhang, asook die twee majorkampioene Lilia Vu en Allisen Corpuz hul eerste proesel van internasionale spangholf kry.

Die res van Lewis se spanlede is almal gesoute spelers.

Hulle is Lexi Thompson, wat die Yanks die sesde keer verteenwoordig, Danielle Kang, wat die vierde keer in aksie sal wees, Meghan Kang en Nelly Korda, wat die derde keer gaan probeer om sukses te smaak, en Jennifer Kupcho wat in 2021 die eerste keer haar geboorteland verteenwoordig het.

Amerika loop algeheel met 10 – 7 voor in oorwinnings behaal sedert die ontstaan van die toernooi in 1990.

Die Europese span, wat sal probeer om ʼn agtste algehele en derde agtereenvolgende sege te behaal, word deur die Sweed Suzann Petterson gelei.

Sy het verlede week haar landgenote Madelene Sagstrom en Caroline Hedwall, asook die Skot Gemma Dryburgh as kapteinskeuses in haar span ingesluit.

Hedwall se keuse het ʼn vlaag van kritiek ontlok omdat sy vanjaar ʼn powere jaar op die gholfbaan beleef. Sy kon net in een toernooi in Amerika onder die toptien klaarmaak.

Petterson het egter Hedwall se onbetwisbare ondervinding van vier Solheimbekertoernooie voorgehou as rede vir haar insluiting en gesê sy vertrou dat Hedwall die span tot sukses kan aanvuur.

Die res van Europa se span bestaan uit die nuwe majorkampioen Celine Boutier, LPGA-toernooiwenners Maja Stark, Charley Hull, Linn Grant, Georgia Hall, Charlotte Ciganda, Anna Nordqvist en Leona Maguire, asook die ster van die Europese vrouereeks Emily Kristine Pedersen.

Nieteenstaande Hedwall se keuse, is die Europese twaalftal ʼn gedugte span, wat waarskynlik vanjaar sterker is as die twee spanne wat in 2019 en 2021 koning gekraai het.

Die “tuisbaanvoordeel” wat Spanje aan die Europeërs bied, tesame met die feit dat die Amerikaanse troefkaarte van Thompson en Kang erg van stryk af is, kan dalk net een te veel hekkie vir die Yanks wees in hul strewe na ʼn oorwinning ná ʼn lang wendroogte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.