Stryd om ranglyspunte vir LIV-spelers duur voort

Graeme McDowell (Foto: SAM GREENWOOD/ GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Die gewese Amerikaanse Ope-kampioen Graeme McDowell dring aan dat die LIV-gholfreeks se versoek vir wêreldranglyspunte regverdig beoordeel word.

McDowell, wat die VSA-ope in 2010 op die magiese Pebble Beach-baan in Carmel in Kalifornië gewen het, sê daar word ’n onregverdige veldtog teen die spelers van die Saoedi-Arabies gefinansierde reeks gevoer.

“Al wat ons wil hê, is dat ons versoek om ranglyspunte te verdien, regverdig oorweeg en beoordeel te word.

“Ons vra net dat ons erkenning kry vir wat ons doen. Dit is bitter onregverdig om eenvoudig al die talent in die LIV-reeks te ignoreer,” het ’n omgekrapte McDowell op die vooraand van die sesde LIV-toernooi gesê.

Die omstrede reeks se sesde en voorlaaste toernooi begin Vrydag in Jeddah, waarna die laaste toernooi einde vandeesmaand in Miami beslis sal word.

Die omstrede LIV-reeks het drie maande gelede ’n aansoek ingedien om erkenning as ’n amptelike gholfreeks te kry en sodoende vir wêreldranglyspunte te kwalifiseer.

Die OWGR, wat die ranglys saamstel, oorweeg tans nog LIV se aansoek.

Uit frustrasie dat dit so lank neem vir hul aansoek om goedgekeur te word, het LIV verlede week ’n ooreenkoms met die MENA-reeks gesluit en gehoop dat hulle deur dié reeks vir ranglyspunte kan kwalifiseer.

Dié stap het ook nie die gewenste uitslag vir LIV gebring nie en die reeks geniet tans nog geen erkenning nie.

Gevolglik sak die LIV-spelers almal terug op die wêreldranglys en verloor hulle een vir een hulle posisies onder die topvyftig.

Die topvyftig is van kardinale belang deurdat daardie betrokke spelers regstreeks vir die Major-toernooie kwalifiseer.

“Teen die tyd dat ons dalk eendag ranglyspunte kan verdien, gaan dit nie meer saak maak nie, want ons sal so ver teruggesak het dat ons nie weer bo sal kan uitkom nie, sê Dustin Johnson.

Die wêreld se gewese nommer 1-speler is die LIV-reeks se voorste speler en hy het tot dusver meer as $30 miljoen (nagenoeg R560 miljoen) aan prysgeld en bonusse in die LIV-reeks verdien.

Johnson beklee tans die 24ste posisie op die wêreldranglys. Hy was nommer 18 toe hy hom by die LIV-reeks aangesluit het.

McDowell het sedert sy aansluiting by die LIV-reeks tot die 419de posisie teruggesak.

 

Die LIV-reeks se topspelers se huidige posisies op die wêreldranglys, met hul posisies aan die begin van Julie in hakies is:

Cameron Smith 2 (6)

Joaquin Niemann 22 (17)

Dustin Johnson 24 (18)

Abraham Ancer 25 (21)

Brooks Koepka 33 (20)

Kevin Na 34 (33)

Louis Oosthuizen 39 (22)

Talor Gooch 39 (38)

Paul Casey 42 (27)

Harold Varner III 46 (37)

Jason Kokrak 47 (34)

Bryson DeChambeau 49 (32)

Patrick Reed 56 (39)

Cameron Tringale 62 (55)

Sergio Garcia 80 (68)

Richard Bland 82 (74)

Scott Vincent 83 (96)

Matt Jones 86 (79)

Anirban Lahiri 91 (93)

Shaun Norris 106 (84)

Lee Westwood 104 (90)

Ian Poulter 128 (100)

Charl Schwartzel 137 (128)

Phil Mickelson 138 (89)

Brendan Grace 161 (132)

Graeme McDowell 419 (326).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.