Thriston se setwerk gee deurslag in SA Ope

Suid-Afrika se Thriston Lawrence. (Foto: Gabriel Monnet/AFP)

Suid-Afrika se gholflegende Gary Player het jare gelede die opmerking gemaak dat setwerk, en nie net om die bal ver te slaan nie, die geld laat inrol.

Dit is waarom dit heel gepas is dat die 25-jarige Suid-Afrikaner Thriston Lawrence die voortou ná die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse Ope, wat op die Blair Athol-baan in Lanseria gespeel word, geneem het.

Player het die baan op die landgoed, waar hy langer as 20 jaar gebly het, ontwerp. Hy het seker gemaak dat spelers wat die bal sekuur slaan en goed set, beloon sal word.

Lawrence, wat in 2021 die Joburg Ope gewen het, asook die Europese Meesters in Augustus vanjaar, se setwerk was in die kol.

Hy het ná sy ronde gesê dat hy die afgelope drie weke baie swak geset het, maar dat sy pa aan hom goeie raad gegee het wat ʼn groot verskil gemaak het.

Hy het nege voëltjies in sy eerste ronde van 64 houe aangeteken en dit in die tweede ronde (67) met nog sewe aangevul. Hy het op 131 (-13) geëindig en is twee houe voor Ockie Strydom, wat ʼn baanrekord met sy 63 houe in die tweede ronde opgestel het.

Strydom het twee keer drie opeenvolgende voëltjies (tussen die 5de en 7de putjies) en weer tussen die 11de en 13de putjies behaal.

Hy slaan Saterdag op 133 houe (-11) af, gevolg deur die Fransman Clément Sordet en die 19-jarige amateur Christian Maas, wat ʼn oud-Affie is.

Die Sweed Jens Fahrbring is op 135 (-9), met Wilco Nienaber en die Engelsman Ross Fisher albei op 136 (-8).

* In Albany in New Providence in die Bahamas, het die Noorweër Viktor Hovland die voortou ná die tweede ronde van die Hero-uitdaagtoernooi geneem.

Hovland het die tweede ronde in 70 houe voltooi en is op 139 (-5) een hou voor die Amerikaners Collin Morikawa, Scottie Scheffler, Cameron Young en Xander Schauffele, wat almal op 140 houe (-4) geëindig het.

Hulle word op 141 (-3) gevolg deur die Koreaan Joo-Hyung Kim op 141.

* In Melbourne het Suid-Afrika se Ashleigh Buhai sterk na vore getree in die Australiese Ope vir vroue, wat saam met die Australiese Ope vir mans gespeel word.

Buhai was halfpad deur die derde ronde saam met die Aussies Hannah Green net twee houe (-11) agter die voorloper Jiyai Shin van Korea (-13).

David Micheluzzi was ná nege putjies in die derde ronde (-9) met een hou voor die Pool Adrian Meronk en nog  ʼn Aussie, Adam Scott, (albei -8) in die Ope vir mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.