Tienersensasie verstom in Tokai

(Foto: Millereau Philippe/KMSP/AFP)

Die Duitse tienersensasie Chiara Noja het Woensdagmiddag ’n verstommende vertoning op die Steenberg-gholfbaan in Tokai gelewer, om die voortou te neem ná die eerste ronde van die Investec SA Ope.

Die 16-jarige Noja het die verbetering in die gure weersomstandighede tot haar voordeel benut en nie minder nie as nege voëltjies en ’n arend aangeteken onderweg na ’n manjifieke telling van 62 – tien houe minder as die baansyfer – en ’n voorsprong van twee houe.

Die jong Duitser se spel was van wêreldgehalte en veral haar setwerk was witwarm gewees.

Noja het verlede jaar die jongste wenner ooit in die Europese vrouereeks geword toe sy die gerekende Engelse speler Charley Hull in ’n uitspeelstryd om die Aramco-titel in Jeddah geklop het.

Waar Noja dus geen groentjie op die gholfbaan blyk te wees nie, sal Suid-Afrika se Ashleigh Buhai stilweg vol vertroue wees dat sy ná die eerste dag goed geplaas is om haar vierde SA Ope-titel in te oes.

Buhai het Woensdagoggend in die uiters lastige reën wat tot ná die middaguur geval het, die baan soos Noja aan die brand gespeel.

Die 33-jarige Johannesburger het gholf van ewe hoogstaande gehalte opgedis en die een voëltjie ná die ander op haar telkaart ingevul om uiteindelik met ’n telling van 64 houe – agt minder as die baansyfer – die eerste ronde van die glansryke toernooi boaan die voorlopersbord af te sluit. Sy is egter later deur Noja verbygesteek.

“Ek kon nie op ’n beter begin gehoop het nie, maar is terdeë bewus daarvan dat daar nog ’n lang pad voorlê.

“My goeie setwerk was die groot rede vir my suksesvolle dag. Ek het Dinsdagaand ’n setwerkles gehad en dit het vandag al die verskil in die wêreld gemaak,” het Buhai ná haar sprankelende rooiwarm vertoning op die setperke gesê.

Die heersende Britse Ope-kampioen het gesê die ligte reën wat deurentyd geval het, was geensins aangenaam nie en dit was soms moeilik om al die stokke en haar hande droog te hou.

“Afgesien van die weer is ek bitter gelukkig oor hoe die eerste ronde verloop het. Natuurlik is ek hier om te wen, maar ek weet ook dat dit nie so eenvoudig en so maklik is om elke keer te wen nie,” het sy gesê.

Buhai het saam met haar landgenoot Lee-Anne Pace en Lily May Humphreys van Engeland in ’n driebal gespeel en was bitter vinnig uit die wegspringblokke met drie agtereenvolgende voëltjies nadat hulle by die tiende putjie afgeslaan het.

Sy het geëindig met ’n skitterende telling van 29 houe.

Dit wou voorkom of Buhai se spel haar spelmaats in beswyming gehad het, want oor die eerste sewe putjies kon net Pace ’n enkele voëltjie (by die 14de putjie) aanteken, terwyl Buhai dit eenvoudig ingeryg het.

Uiteindelik het Pace en Humphreys tot verhaal gekom en die eerste helftes van hul eerste ronde suksesvol afgesluit met voëltjies by die 17de en 18de putjie.

Buhai kon weens aanhoudende reën oor haar tweede nege nie haar vuurwarm pas volhou nie en sy het ná twee voëltjies en ’n brouhou ’n telling van 35 vir ’n totaal van 64 aangeteken.

Pace, wat die SA Ope reeds vyf keer in haar loopbaan gewen het en die verdedigende kampioen is, het soos Buhai oor haar tweede nege uitgesak en sewe syfers en twee brouhoue op haar telkaart ingevul vir ’n totaal van 70.

Humphreys, die huidige voorloper op die Sonskynreeks se merietelys, was die enigste lid van die driebal wat skynbaar nog woema gehad het en sy het met drie voëltjies oor haar tweede nege verseker dat sy op ’n telling van 67 (-5) die dag onder die voorlopers sou afsluit.

Naas Buhai het Nadia van der Westhuizen (68) en Kaleigh Telfer (69) die beste vertoon van die SA spelers in die veld.

Redman loop voor in Centurion

In Centurion is Jake Redman die voorloper met een hou ná die eerste ronde van die Sonskynreeks se Mediclinic-uitnodigingstoernooi.

Die 25-jarige speler van Fancourt het die baan van die Centurion-buiteklub met agt voëltjies en ’n arend getem, maar ongelukkig ook twee brouhoue aangeteken onderweg na ’n telling van 64 – agt houe minder as die baansyfer.

’n Groep van vyf spelers, onder wie die Pretorianer George Coetzee tel, deel op 65 die tweede plek, met tien spelers wat almal 66 houe gespeel het.

Die dubbele DP World-toernooiwenner en groot gunsteling om Saterdag as kampioen gekroon te word, Ockie Oosthuizen, is op ’n telling van 67 nie te sleg geplaas nie in die wedloop om die boonste trappie op die podium.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.