Wilco aan die brand in Skotland

Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Die Suid-Afrikaner Wilco Nienaber se borrelende gholftalent het Vrydag op St. Andrews in Skotland oorgebruis toe hy 61 houe in die tweede ronde van die Hero-Ope aangeteken het.

Nienaber, wat die eerste ronde in 71 houe voltooi het, is op 132 (-12) net drie houe agter die voorloper, Sean Crocker van Amerika, wat 129 houe (-15) op sy telkaart ingevul het.

Die toernooi maak deel uit van die DP-wêreldtoer.

Nienaber, wat in die eerste ronde op vier putjies houe aan baansyfer afgestaan het, het Vrydag sewe voëltjies en twee arende (op die 6de en 18de putjies) aangeteken.

Die Skot Scott Jamieson is tweede op 130 (-14), gevolg deur Ross Fisher en Jonathan Thompson (albei van Engeland), David Law (Skotland), Jens Dantorp (Swede) en Adrian Otaegui (Spanje), wat almal op 131 (-13) klaargemaak het.

Ander Suid-Afrikaners wat ʼn goeie poging aangewend het, was Louis de Jager (134, -10), JC Ritchie (135), Justin Walters en Jacques Kruyswijk (albei 136) en Brandon Stone en Bryce Easton (137).

Rocket Mortgage-toernooi

In die Rocket Mortgage-toernooi wat in Detroit beslis word en deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, kon geen Suid-Afrikaners hond haaraf maak nie.

Die Kanadees Taylor Pendrith is voor (129, -15) ná tellings van 64 en 65, gevolg deur die Amerikaner Tony Finau (130), met Lee Hodges op 132 en Stewart Cink, Russel Henley en Cameron Young almal op 134.

LIV-toernooi

Charl Schwartzel. Foto: AP Photo/Ben Curtis

In die derde LIV-toernooi, wat op Donald Trump se Bedminster-baan in New Jersey gespeel word, is Branden Grace, Charl Schwartzel en Justin Harding (almal 70, -1) saam 15de ná die eerste drie rondes.

Die Sweed Henrik Stenson, wat verlede week as kaptein van die Europese Ryderbeker-span bedank het oor sy deelname aan die rebelle-reeks, is saam met die Amerikaner Patrick Reed met twee houe (64, -7) voor.

Hulle word gevolg deur Phachara Khonwatamai van Thailand op 66 en Dustin Johnson en Carlos Ortiz (Mexiko), albei op 67.

Van die ander Suid-Afrikaners is Shaun Norris (71, +1) in die 31ste posisie, met Louis Oosthuizen (73) en Hennie du Plessis (76) nog verder agter.

Du Plessis is tweede laaste in die 46ste posisie.

Selfs al kom Du Plessis laaste, is daar geen vrese dat sy bankbalans ʼn duik sal vat nie want hy sal steeds $120 000 (bykans R2 miljoen) ontvang vir sy deelname.

Skotse Ope

In die Skotse Ope vir vroue wat op die Dundonald Links-baan in Troon gespeel word, is Lydia Ko van Nieu-Seeland (130, -14) met twee houe voor ná die eerste twee rondes.

Sy word gevolg deur Lilia Vu (Amerika) op 130, Eun-Hee Ji van Korea op 132 en Wichanee Meechai van Thailand op 133.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai en Paula Reto (albei 144), en Lee-Anne Pace en Nicole Garcia (albei 148) kon nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.