Aussie sê Lucknow moes Quinny gekies het

Quinton de Kock laat waai met die wilgerlat. (Foto: Twitter/Lucknow Super Giants)

Tom Moody, die voormalige Australiese krieketspeler en IPL-afrigter, meen dat die Lucknow Super Giants ʼn fout gemaak het om nie vir Quinton de Kock vir die uitklopwedstryd teen die Mumbai Indians te kies nie.

Mumbai het die kragmeting met 81 lopies beklink nadat die Super Giants vir slegs 101 lopies uitgeknikker is.

Kyle Mayers, wat waarskynlik in De Kock se plek gespeel het, het 18 lopies aangeteken voordat Cameron Green hom van Chris Jordan se boulwerk uitgevang het.

Die Suid-Afrikaanse paaltjiewagter het vanjaar uiteindelik in net vier IPL-wedstryde gespeel waarin hy 143 lopies teen ʼn gemiddeld van 35 en ʼn treftempo van 140 geslaan het.

“Dit is vir my ʼn verrassing dat ʼn speler van sy kaliber die aksie van langs die veld moes dophou. ʼn Span het ervare spelers nodig en niemand in die Super Giants-groep het meer ervaring as Quinton de Kock nie,” het Moody in ʼn Cricinfo-program gesê.

Mayers het glo meer speelkans gekry omdat hy al vantevore goed gevaar het op die MA Chidambaram-stadion in Chennai.

Volgens Moody is De Kock een van die grootste name in wêreldkrieket en sy bewese rekord op die internasionale verhoog behoort swaarder te weeg as ʼn paar onlangse goeie vertonings op ʼn spesifieke stadion.

“Dit is vir my ʼn vreemde besluit en dit het hulle uiteindelik duur te staan gekom. ʼn Kalmerende invloed tydens die drukkokersituasie van ʼn belangrike wedstryd sou baie welkom gewees het. Terselfdertyd het Nicholas Pooran my ook nie as paaltjiewagter beïndruk nie; De Kock is baie meer behendig agter die paaltjies.”

Dit is egter nie net De Kock wat min speelkans gekry het nie.

Dewald Brevis het nie een wedstryd vir die Mumbai Indians gespeel nie, terwyl Tristan Stubbs, Sisanda Magala en Dwaine Pretorius ook bitter min geleenthede gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Mayers het goed gevaar in die kompetisie die kere wat ek die telkaarte van die wedstryde gesien het. Hulle het seker die ouens gekies wat op vorm was. Mayers het die 19de meeste lopies aangeteken in vanjaar se kompetisie, Ek sien nie eers De Kock se naam op die lys van meeste lopiemakers nie.

Christian ·

Mayers het 13 keer gekolf om sy lopies te kry – De Kock het net 4 keer gekolf , natuurlik sal Mayers meer lopies gekry het. Mayers se gemiddeld is 38ste teen De Kock se 20ste. De Kock is die laaste 4 jaar in die IPL die voorste openings kolwer as dit kom by kolf tempo en gemiddeld in die eerste 6 boulbeurte. Die feit dat sy naam nie onder die voorste lopie makers is nie dra nie water nie. Meeste krieket skrywers en kenners stem saam dat dit absurb was om hom nie te kies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.