Australië met die hef in die hand

Nathan Lyon benodig nog net een paaltjie om met 500 toetspaaltjies te spog. (Foto: Colin Murty/AFP)

Australië het ongetwyfeld die hef in die hand ná die derde dag se spel van die eerste toets teen Pakistan in Perth.

Die Aussies geniet ʼn voorsprong van presies 300 lopies en hulle het nog agt paaltjies staande in hul tweede kolfbeurt.

Steven Smith (43 nie uit nie) en Usman Khawaja (34*) sal môre die tuisspan se kolfbeurt op 84/2 hervat nadat hulle vroeër die besoekers vir 271 lopies uitgeknikker het.

Nathan Lyon het die beste met die bal gevaar en hy het drie Pakistan-kolwers terug na die kleedkamer gestuur om met ʼn boulontleding van 3/66 te spog.

Hy benodig nog net een paaltjie om die tweede Australiese draaier – naas die legendariese Shane Warne – te word om 500 paaltjies in sy toetsloopbaan te neem.

David Warner kon egter nie op sy heldedade van die eerste beurt voortbou nie en Khurram Shahzad het hom nou vir ʼn nulletjie uitgehaal.

  • Opsomming van die telkaart:

Australië 487 in 113,2 boulbeurte: David Warner 164, Mitchell Marsh 90 en Aamer Jamal 6/111.

Pakistan 271/10 in 101,5 boulbeurte: Imam-ul-Haq 62, Abdullah Shafique 42 en Nathan Lyon 3/66.

Australië 84/2 in 33 boulbeurte: Steven Smith 43* en Khurram Shahzad 2/19.

  • Stand van sake: Australië geniet ʼn voorsprong van 300 lopies.

Boulers met die meeste paaltjies in toetskrieket:

  1. Muttiah Muralitharan (Sri Lanka): 800 paaltjies
  2. Shane Warne (Australië): 708 paaltjies
  3. James Anderson (Engeland): 690 paaltjies
  4. Anil Kumble (Indië): 619 paaltjies
  5. Stuart Broad (Engeland): 604 paaltjies
  6. Glenn McGrath (Australië): 563 paaltjies
  7. Courtney Walsh (Wes-Indiese Eilande): 519 paaltjies
  8. Nathan Lyon (Australië): 499 paaltjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.