Bangladesj vermorsel Protea-vroue

Bangladesj het die eerste van drie eendagwedstryde teen die Proteas met 119 lopies gewen. (Foto: Twitter/ Proteas Women)

Bangladesj se vroue-krieketspan het Saterdagaand op Buffalopark in Oos-Londen krieketgeskiedenis teen Suid-Afrika gemaak, toe die Tiere die heel eerste keer ’n eendagwedstryd teen die Proteas in Suid-Afrika gewen het.

Bangladesj het die eerste van drie eendagwedstryde met 119 lopies gewen nadat die Proteas teen die toerspan se draaiboulwerk verkrummel het.

Nadat Bangladesj by ʼn baie skaflike 250/3 in sy 50 boulbeurte gedraai het, is die Proteas vir net 131 lopies uitgehaal. Dit het aan Bangladesj ʼn oorwinning van 119 lopies besorg.

Ná Bangladesj se goeie vertonings in die onlangse T20-reeks (wat die toerspan met 2-1 gewen het) is daar verwag dat die Proteas die bordjies in die langer weergawe sou verhang.

Die Proteas het boonop die afgelope paar dae in Oos-Londen daarop gekonsentreer om draaiboulwerk onder die knie te kry.

Maar geoordeel aan die wyse waarop Bangladesj hulle gemesmeraais het, wag daar baie harde werk op die Proteas.

In Suid-Afrika se kolfbeurt van 131 in 36,3 boulbeurte het twee van die groot staatmakers, Laura Wolvaardt (5) en Tasmin Brits (4), die eerste keer in ʼn baie lang ruk saam misluk.

Net Eliz-Mari Marx (36) en Sune Luus (31) het skaflik gekolf.

Bangladesj se draaiers, Nahida Akter (3/33), Fahima Khatun (2/16) en Sultana Khatun (2/32), het die skroewe vasgedraai.

Ja, die Oos-Londense blad pas draaiboulwerk, maar wat het van die vaardighede geword?

In Bangladesj se kolfbeurt was Murshida Khatun met haar onoorwonne 91 lopies (100 balle, 12×4) en Fargana Hoque (35) en Shamima Sultana (34) die beste van die kolwers.

Net Marx (1/43), Nonkululeko Mlaba (1/37) en Delmi Tucker (1/43) het in die paaltjies gedeel.

Boonop is 18 wydlopers afgestuur. Dit het tot drie ekstra boulbeurte gelei.

Die tweede wedstryd is Woensdag in Potchefstroom gevolg deur die laaste wedstryd komende Saterdag in Benoni.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.