‘Fikse’ Proteas lewer vuurwarm vertoning

Rassie Erasmus en Aiden Markram hardloop flink tussen die paaltjies terwyl Ben Stokes toekyk. Foto: Oli Scarff/AFP.

Die laaste hoofstuk van Ben Stokes se internasionale eendagkrieketloopbaan het toe glad nie ’n sprokiesverhaal-einde in Durham opgelewer nie.

Die veelsydige speler het eerstens 44 lopies in sy vyf boulbeurte afgestaan, waarna hy ook net vyf lopies met die kolf kon aanteken. Terselfdertyd het die Proteas die kragmeting met 62 lopies beklink om ’n voorsprong van 1 – 0 in die reeks van drie wedstryde te geniet.

Op ’n snikheetwarm dag – waar toeskouers tou gestaan het om hul waterbottels by waterstasies te vul – het Rassie van der Dussen en Aiden Markram ’n kolfwerkmeesterles aangebied.

Van der Dussen, wat met ’n merkwaardige kolfgemiddeld van 74.95 ná 36 wedstryde spog, het 134 lopies vanaf slegs 117 aflewerings gemoker.

Saam met Markram (77 lopies) het hy die wind uit die Engelse se seile gehaal en toegesien dat die Proteas 333/5 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken. Dit is die Suid-Afrikaners se hoogste eendagkriekettelling in Engeland.

Keshav Maharaj is die kaptein in Temba Bavuma se afwesigheid en hy het met sy boulveranderinge en veldwerkplasings beïndruk.

Anrich Nortjé het ’n spul paaltjies in een boulbeurt laat spat om die Engelse vir 271 in die 47ste boulbeurt uit te knikker.

“Engeland weet hoe om wedstryde te wen. Hulle het al baie krieket agter die blad en ’n mens kan dit sien. Ja, dit was baie warm, maar ons het net vir meer dinge kans gesien,” het Van der Dussen ná die wedstryd gesê.

Op ’n groot veld is vinnige enkellopies net so belangrik soos grenshoue om die telbord aan die gang te hou en volgens Van der Dussen het die Proteas beslis hul fiksheid-huiswerk gedoen.

“Ons het vooraf baie aandag aan kondisioneringswerk gegee en dit was ons plan om die bal in gapings te slaan en so vinnig as moontlik tussen die paaltjies te hardloop. Sodoende kon ons selfs lopies vanaf goeie aflewerings aanteken.”

Die tweede wedstryd word Vrydag in Manchester beslis.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 333/5 in 50 boulbeurte: Rassie van der Dussen 134, Aiden Markram 77 en Liam Livingstone 2/30.

Engeland 271/10 in 46.5 boulbeurte: Joe Root 86, Jonny Bairstow 63 en Anrich Nortjé 4/53.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snuffelgids ·

Baie goeie oorwinning, geluk. Ek dink net ons stert is steers te lank, as ons kolwers die dag sukkel, lyk dit nie of die stert gaan kan red nie.

Manie ·

Die Engelse het 5 “allrounders” in hul span gehad wat saam nie veel lopies aangeteken het nie. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd, het ons kolforde stewig gelyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.